Ben Fourie

“Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom.” Lukas 15:20b

In die Hermitage museum in St Petersburg hang die beroemde Rembrandt skildery wat die terugkoms van die verlore seun uitbeeld. Dit is ’n groot skildery wat jou asem wegslaan. Kyk gerus daarna op Internet. Die skilder slaag daarin om dit wat Jesus deur hierdie gelykenis vir ons wil leer, pragtig uit te beeld. Daar is verskeie temas in die verhaal waarby ’n mens sou kon aansluit soos die onverantwoordelikheid van ’n seun wat sy erfporsie uitmors of ’n ouer broer wat ontevrede is oor ’n gewaande onreg, maar dit is subtitels. Sentraal in die storie van ’n seun wat die pad byster geraak het, staan die blydskap van ’n vader. “Hierdie seun van my was dood en hy lewe weer: hy was verlore en ek het hom teruggekry” (Lukas 15:24).

Die gelykenis is die derde wat in Lukas 15 oor dieselfde tema handel. Die ander is oor die verlore skaap en die verlore muntstuk. Elkeen lig iets anders uit oor “verlore” wees, maar die hooftema by al drie is die blydskap wanneer dit wat verlore was weer gevind word. Wanneer die verlore skaap gevind word nooi die eienaar sy vriende en bure om in sy blydskap te deel en word daar gesê dat daar blydskap in die hemel sal wees oor een sondaar wat tot bekering kom. Ook die vrou wat haar geldstuk weer kry nooi die vriendinne en buurvroue om haar blydskap te deel en daar is blydskap onder die engele van God oor die een sondaar wat hom bekeer.

By die verhaal van die verlore seun word ‘n hoogtepunt bereik en is dit die vader self wat sy seun met groot blydskap ontvang, al was hy ook met varke deurmekaar. In die Ou Testament sien ons hoe Hy sy volk wat gereeld afgedwaal het agter ‘n goue kalf en baie ander soorte afgode aan met blydskap terug verwelkom byvoorbeeld: “Die volk wat in donkerte geleef het, het ’n groot lig gesien.” (Jesaja 9:1). Deur sy eie Seun aan die kruis te laat sterf skep Hy die ruimte vir ons almal om na die Vaderhuis terug te gaan.

Gebed: Baie dankie Vader dat ek ook na U kon kom al was ek dood vanweë die sonde en dat U my ook met groot blydskap ontvang het. Amen