Ben Fourie

“Jou dwaas, vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word ...” Lukas 12:20b.

Is dit verkeerd om ryk te wees? Op verskeie plekke in die Bybel lyk dit asof rykdom afgewys word. Ons dink aan Spreuke 23:4: “Moet jou nie afsloof om ryk te word nie” of Hebreërs 13:5: “Hou julle lewe vry van geldgierigheid” of die gelykenis van die ryk dwaas hier in Lukas 12. Is die Bybel dus teen rykdom? Nee! Die Bybel het ‘n baie gebalanseerde siening oor rykdom en armoede. Dink maar aan Salomo en Job wat groot rykdom gehad het.

In Lukas 12 vertel Jesus die storie van ‘n ryk man wie se grond goed gedra het. Daarmee is duidelik nie fout nie. Hy was geseënd met ‘n goeie vrugbare plaas waar hy duidelik ook hard gewerk het en groot oeste ingesamel het. Maar dan begin dinge skeefloop. Hy vind dat sy huidige skure gewoon te klein is om hierdie rekordoes in op te berg. Sy plan om uit die penarie te kom lyk heeltemal goed; kom ek breek die ou skure af en bou groteres, maar Jesus sien iets anders raak. In vers 15 spel hy dit uit: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ‘n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.”

Ook die teks wat ons vroeër in Spreuke gelees het se tweede deel klink so: “moenie jou sin vir waardes verloor nie”. Mense mag maar ryk wees, om die waarheid te sê benodig ons land eintlik meer ryk mense wat welvaart kan skep en so help dat meer mense werk kry, maar daar is ‘n reuse-verskil tussen rykdom en gierigheid. Die groot probleem met rykdom kom wanneer mense so vasgevang word deur hulle besittings dat hulle gierig raak en nie meer raaksien dat alles wat hulle besit van God af kom nie en ook nie meer die nood van ander raaksien nie. In die verhaal van die ryk man en Lasarus in Lukas 16 word die man se rykdom nie veroordeel nie, maar die feit dat die bedelaar Lasarus by sy huis se deur gelê en gekrepeer het van ellende sonder dat die ryk man ’n hand na hom uitgesteek het. God skenk aan sommige mense meer rykdom as aan ander, maar verwag dat dit baie verantwoordelik hanteer sal word.

Gebed: Maak my ‘n verantwoordelike rentmeester. Amen