Ben Fourie

“Ek sê vir julle: Vra en vir julle sal gegee word. Soek en julle sal kry. Klop en vir julle sal oopgemaak word.” Lukas 11:9

Die storie wat hier in Lukas 11 vertel word van ’n man wat in die nag drie brode by ‘n vriend wou leen is vir baie van ons seker glad nie vreemd nie. Toe ek ’n kind was, het ons soos baie ander mense van daardie era nie altyd volop gehad nie en was dit ‘n algemene ding dat bure by mekaar iets geleen het. Dikwels het my ma my omgestuur na 'n buurtannie om te vra ma wil graag ’n koppie suiker of ‘n paar hoendereiers of so iets leen.

Jesus se verhaal van ’n man wat in die verleentheid geraak het omdat daar onverwags ’n kuiergas opgedaag het en hy met ‘n leë koskas gesit het, het niks te doen met goeie vriendskap of buurmanskap nie en ook nie met ‘n onbeskofte vriend wat nie lus was om middernag met ‘n ander se probleme te sit nie.

Die storie gaan eintlik oor God wat altyd gereed is om na ons gebede te luister. Aan die begin van die hoofstuk leer Jesus sy volgelinge ‘n kort, maar kragtige gebed. Die gelykenis wat Hy net hierna gebruik, vertel van ‘n vriend wat redelik knorrig was omdat ’n ander vriend hom in die middel van die nag wakker gemaak het om drie brode te leen. Hy voel hy word lastig geval, sy deur is al gesluit sy kinders slaap al. ’n Mens kan jou voorstel dat hy seker by homself gedink het die vriend was bra agtelosig om nie te sorg dat daar kos in sy huis is nie. Tog sê vers 8 dat al sou hy nie vanweë hulle vriendskap opstaan nie, sal hy tog wel opstaan en die nodige verskaf omdat sy vriend regtig in die nood is en hom aanhou vra.

Hoeveel te meer sal God ons nie help nie. Wanneer ons Hom vra vir iets is Hy met respek gesê nie knorrig vir ons nie, bied nie eers verskonings aan waarom Hy nie kan help nie en wanneer Hy ons help is dit nie omdat ons lastig is deur aan te hou vra nie. God antwoord op ons gebed omdat Hy ons liefhet.

Gebed: Dankie Here dat ek maar aanhoudend kan bly vra.  Amen