Ben Fourie

“Die koninkryk van die hemel is soos suurdeeg wat ’n vrou gevat en in ’n groot skottel meel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur was. Matteus 13:33

Soms wil ’n mens absoluut moedeloos word wanneer jy na die wêreld rondom jou kyk. Koerante en televisie is vol van berigte oor geweld, liefdeloosheid en korrupsie. Op baie plekke is daar hongersnood en mense wat aan epidemiese siektes sterf. In die Midde-Ooste en ander plekke in die wêreld is daar oorlog met wreedhede wat jy nie kan glo nie. Kan daar ooit iets aan gedoen word en waar begin ons?

In die tyd van Jesus het dit nie beter gelyk nie. Korrupsie was so wydverspreid dat dit selfs in God se huis, die tempel, bedryf is en Jesus dit nodig gevind het om die handelaars en valuta smouse daar uit te dryf. Die Romeinse Ryk wat oor groot dele van die wêreld gestrek het, het hulle heerskappy met die swaard behou en onsedelikheid was deel van baie godsdiensrites van die tyd. So kan ’n mens aangaan om die lelike dinge op te noem, in Jesus se tyd en ook in ons tyd.

Moet ons elkeen maar in ons veilige hoekie bly sit terwyl dit so lyk? Jesus spreek die verkeerde dinge op vele maniere en plekke aan en in die gelykenisse van die mosterdsaad en die suurdeeg wil Hy vir ons ’n lewensbelangrike les leer oor hoe die dinge teengewerk kan word. Hy gebruik weer die koninkryk van God as vertrekpunt. Daar waar God se koninkryk gevestig word, sal die slegte dinge minder word. Watter rol kan ek en jy speel in die vestiging van sy koninkryk sodat die wêreld ‘n beter plek kan word?

Wanneer ’n mens brood bak het jy verskillende bestanddele nodig waarvan meel en water die grootste deel uitmaak. Maar om goeie brood te bak moet daar ook suurdeeg wees. Die suurdeeg vorm maar ’n bitter klein deeltjie van die bestanddele, maar is onontbeerlik. God se koninkryk is soos die onontbeerlike suurdeeg wat deur die hele mengsel trek en ons as sy kinders is deel van die koninkryk, deel van die suurdeeg. Waar God se kinders werklik in die wêreld betrokke is, verander dinge wel, maar wanneer ons nie betrokke is nie val die deeg plat en kan daar geen brood gebak word nie.

Gebed: Wys my asseblief waar in my omgewing, werkplek en plek van ontspanning ek suurdeeg kan wees. Amen