Ben Fourie

“Wie ore het moet luister.”  Matteus 13:9

Die storie van ‘n man wat eendag sy saadsak gevat en gaan saai het, is so bekend dat ons dalk nie ore het om te hoor wat die boodskap vir ons persoonlik is nie. Baie is al gesê oor die saad van die Woord wat gesaai is. Elke plek waar die saad van die Woord geval het, is al tot in die diepste ontleed en ons gaan ook weer daarna kyk, maar dalk op ’n ander manier as gewoonlik. Die tradisionele verklaring is die een wat Jesus self gee en wat na die hele wêreld as saailand verwys.

In die wêreldwye saailand kry jy mense wat so verhard is dat die saad bolangs op die pad lê en maklik deur die voëls opgevreet word. Ander het ’n sweempie van geloof, maar die rotsbank van ongeloof lê sommer vlak onder die bietjie los sand waarin die saad ontkiem. Onkruid groei net soos goeie saad graag in goeie grond en op die derde plek is daar dus goeie grond, maar ook ’n goeie versameling onkruid wat mettertyd alles verstik. Laastens darem die ware goeie grond wat veelvoudig opbrengs lewer.

Kom ons verruim so ’n bietjie ons gedagtes oor die gelykenis en neem die saailand nie as die wêreld nie, maar as my persoonlike lewe waar daar ook verskeie soorte grond is. Ons is nie net goed nie, maar as mense wat deur Jesus gered is ook nie net sleg nie. Ons is verder ook nie elke dag presies soos die vorige dag nie. In die beeld wat ek van die gelykenis gehad het, was die saailand altyd presies in ewe groot kwarte verdeel, hardepad, rotsbank, 'n onkruid vervuilde deel en een kwart goeie grond. Dit is natuurlik verkeerd, want geen saailand lyk so nie. Ons eie saailand wissel na gelang van wat met ons gebeur, ons emosionele en fisiese toestand en nog talle ander faktore. Die belangrikste is egter dat ek ten spyte van al die dinge wat op my inwerk altyd self beheer oor my lewe het. Ek bepaal dus grootliks self hoe my saailand van dag tot dag lyk en dus ook hoe goed of sleg die gesaaide Woord sal groei.

Gebed: Ek bely vandag dat ek so dikwels nie mooi na my eie saailand omsien nie. Amen