Ben Fourie

“Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis dra en My volg…” Matteus 16:24

In Matteus 13:44-50 vertel Jesus drie kort stories oor die koninkryk van die hemel en hoe die koninkryk funksioneer. God se koninkryk is natuurlik die sentrale tema van die hele Bybel en daarom is dit so belangrik om die kort gelykenisse te verstaan. Kortliks kan ons sê dat die koninkryk waarvan hier sprake is letterlik die domein is waar God die koning is, waar Hy dus regeer. Reeds vanuit die Ou Testament leer ons dat God se koningskap oor alle mense en dinge die rede is waarom Hy alles gemaak het en in die Nuwe Testament word die begrip verder uitgewerk.

Soos met al Jesus se gelykenisse het elkeen van die stories te doen met die gewone leefwêreld van sy luisteraars sodat hulle (en ons) hierdie baie belangrike begrip van die koninkryk kan verstaan. Dit gaan om 'n skat in ‘n saailand, ‘n kosbare pêrel en ‘n visvangery. Ons konsentreer op die storie van die handelaar wat op soek is na goeie pêrels as verteenwoordigend van al drie stories. In vers 46 lees ons: “As hy ’n baie waardevolle pêrel raakloop, gaan verkoop hy alles wat hy het en koop die pêrel.” God se koninkryk, sy heerskappy in die lewe van mense, ook myne, is kosbaarder as enigiets anders en ons moet almal voortdurend daarna soek. Dit beteken dat ek volgens Matteus 6:23 in alles wat ek doen eers die koninkryk van God sal soek “en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word”. (1933/1953-vertaling) Wanneer ons daagliks daarna soek om onder sy heerskappy te lewe skenk hy ons al die dinge wat ons nodig het.

Die storie gaan egter nie net om die soeke na die kosbare pêrel nie, dit gaan ook om ‘n heel nuwe wyse van dink en leef. Om die een kosbare pêrel te “bekostig” vra dat die handelaar al sy ander besittings moet verkoop, moet afstand doen ook van ander pêrels wat hy met die loop van jare bymekaargemaak het. Dit beteken dat as ek God as koning in my lewe wil hê ek al die ander “konings” moet uitgooi. Dan is my besittings, my werk, my vermoëns, al is hulle ook goeie bruikbare pêrels, nie meer die belangrikste nie.

Gebed: Here, help my om elke dag die heel kosbaarste skat te vind. Amen