Ben Fourie

“'Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand en jou naaste soos jouself.’” Lukas 10: 27

Het jy al vandag iemand gesien wat vir jou soos een van jou naastes gelyk het? So ’n half moeilike vraag nè, want wie is my naaste en hoe lyk hy of sy? Hierdie storie van 'n man wat onder die rowers verval het en die drie persone wat hom daar poedelkaal, halfdood en bebloed langs die pad sien lê het, is Jesus se antwoord op die wetgeleerde se strikvraag oor wie my naaste is.

In ons konteks van geweld en moord en rowery het 'n mens so half simpatie met die priester en die Leviet wat maar so ’n bietjie wyd langs hou. Rowers was immers geneig om te kyk of iemand opdaag om hulp te gee omdat hulle dan sommer 'n maklike tweede slagoffer gehad het. So wees maar versigtig. Liewer bangjan as dooiejan. In ons moderne tyd kan 'n mens deesdae skaars by 'n ongelukstoneel stop want by talle geleenthede het rowers selfs die slagoffers van ’n ongeluk beroof. So ja, miskien was die priester en die Leviet maar net slim.

Maar in die gelykenis gaan dit oor iets heeltemal anders. Die probleem van gevaar is eintlik nie werklik ter sprake nie. Wat wel ter sprake is, is iemand se bereidwilligheid om te help ten spyte van die omstandighede. Priesters en Leviete was die elite. Om so vêr te gaan as om hierdie kaal, stukkend geslaande mens te hanteer, wonde te was en te verbind, hom daarna op jou eie rydier te help terwyl jyself moet stap, was ’n verregaande gedagte. Niemand, maar niemand het tog verwag dat 'n priester of 'n Leviet homself so sou verneder nie. Behalwe Jesus. Daarom is die held in Jesus se verhaal ’n Samaritaan, die mense wat deur die Jode verag is. Die Samaritaan was glad ook nie te sleg daaraan toe nie. Om olie en wyn en 'n eie rydier te besit en nog geld te hê om vir die herbergier te gee wys hy was heel welgesteld, maar dit maak nie van hom ’n snob wat nie met bloed en wonde wil werk nie. Wie is my naaste? Nee, niemand nie, maar wel, wie se naaste is ek?

Gebed: Here maak my asseblief vandag iemand se naaste. Amen