Ben Fourie

“My skape luister na my stem en Ek ken hulle en hulle volg My.” Johannes 10:27

Wanneer Jesus homself hier in Johannes 10 teken as die Goeie Herder dink ’n mens onwillekeurig aan Psalm 23 waar God as ons herder beskryf word, 'n herder wat ons na groen weivelde en waters van rus neem, maar ook beskerm: “Dit is u staf en u stok wat my gerusstel”. (BDV)

Om Jesus se beeld van Homself as Goeie Herder reg te verstaan moet ons egter nie net na hoofstuk 10 waar die storie opgeteken is gaan kyk nie, maar ook na hoofstuk 9 waar die verhaal vertel word van hoe Jesus ’n blinde man gesond gemaak het. Omdat hulle baie rigied in hulle denke oor geloof en godsdiens was, bring hierdie genesingswonder Hom onder verdenking by die Fariseërs. Dit raak so erg dat hulle die man en sy ouers selfs aan ondervraging onderwerp en hom as laaste uitweg uit die godsdienstige gemeenskap verban. Jesus stel Homself as Goeie Herder dan juis in kontras met die Fariseërs. In plaas daarvan dat hulle groot blydskap toon oor 'n blinde persoon wat op wonderbaarlike wyse van sy gestremdheid genees is, is hulle so vasgevang in hulle eie kleinlike vooroordele dat hulle die persoon uit die tempel en die gemeenskap uitsluit.

Jesus se oordeel is baie skerp. Hy noem hulle huurlinge, hulle wat as geestelike leiers juis aangestel is om na God se “skape” om te sien. Die oomblik wat hulle iets vreemds soos die wonderwerk sien gebeur, “vlug” hulle na wat bekend is. Jesus word selfs deur sommige van hulle as van die duiwel besete gesien. In die Fariseërs se wêreld is God se “anders” wees ongevraagd. Net hulle is reg oor hoe God moet wees en hoe Hy moet optree. Jesus dink en tree egter heeltemal anders op. Die grootste gevaar wat 'n skaap kan bedreig is tog die dood en in kontras met die “huurlinge” wat hulle nie oor die skape bekommer nie maar wegvlug wanneer mense se geestelike nood so groot is dat hulle kan sterf, is Jesus bereid om sy lewe af te lê vir die skape.

Gebed: Dankie, dat U my ken en dat ek ook vir U mag ken. Maak my iemand wat nie veroordelend teenoor ander sal wees nie. Amen