Ben Fourie

“Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee.” Johannes 6:33

Brood word deur die eeue heen gereken as een van die belangrikste voedselsoorte. Reeds ongeveer 8 000 jaar v.C. is daar ’n vorm van ongesuurde brood van gemaalde graan op warm klippe gebak. Talle verhale waar brood die hoofrol speel is al geskryf en ook “Panis Angelicus” wat deel vorm van ‘n groter lied wat deur Thomas Aquinas geskryf is en beteken “Brood van die Engele” met die pragtige woorde, vry vertaal: "Brood vir die engele word die brood vir alle mense … die liggaam van die Heer sal die armes, die knegte en die nederiges voed." In die Ou Testament speel brood 'n baie belangrike rol in die lewe van die volk Israel en in Exodus 13 word die volk gemaan om na hulle aankoms in die beloofde land in 'n spesifieke maand vir sewe dae lank ongesuurde brood te eet as herinnering aan die verlossing uit die Egiptiese slawerny. In die Nuwe Testament lees ons baie van brood en selfs die klein dorpie Bethlehem waar Jesus gebore is, beteken "huis van brood".

In Johannes se weergawe van die Evangelie word nêrens van 'n gelykenis gepraat nie en tog is daar talle stories wat soos 'n gelykenis gebruik word om mense te help om Jesus se werk beter te verstaan. Die gebeure in Johannes 6 vanaf vers 22 speel hulleself af kort na die wonderwerk waar vyf garsbrode so vermeerder is dat duisende mense daardeur gevoed is. Mense het hiervan gehoor en met skuitjies na Jesus aangekom, maar wanneer hulle Hom bereik, spreek Jesus hulle nogal skerp aan en sê dat hulle nie gekom het vanweë die wonderwerk nie maar omdat hulle wil kom kyk of daar nie weer gratis brood uitgedeel word nie.

Dan spreek Hy die onvergeetlike woorde in vers 35 uit: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie en wie in my glo sal nooit weer dors kry nie.” Brood en water beteken vir iemand wat besig is om van honger en dors te sterf letterlik die verskil tussen lewe en dood. So is Jesus as brood van die lewe vir elke mens wie se siel besig is om te sterf die verskil tussen hemel en hel.

Gebed: “Dankie vir u liggaam wat gebreek is vir al my sonde.” Amen