Ben Fourie

“En Jesus sê vir haar: ‘Jou sondes is vergewe’”. Lukas 7:48

Hierdie storie kom op die spesifieke wyse wat dit hier vertel word net in die Evangelie volgens Lukas voor. Matteus, Markus en Johannes het ook verhale van ‘n vrou wat of Jesus se voete of sy kop met kosbare olie gesalf het, maar dit was waarskynlik ‘n ander geleentheid as die waarvan Lukas vertel. Uniek aan Lukas se verhaal is die kort maar baie kragtige gelykenis in verse 41 tot 43 oor die twee mense van wie een tien keer meer as die ander een  geskuld het. Dan kom die geldskieter by wie hulle dit geleen het en vind dat nie een van die twee iets het om hom mee te betaal nie. Uit medelye met hulle probleem het hy albei kwytgeskeld.

Op Jesus se vraag wie van hulle twee die meeste liefde vir die geldskieter sou hê, is die antwoord natuurlik die een wat die meeste geskuld het. Net so is hierdie vrou wat volgens die Bybel ‘n sondige lewe gelei het so onder die indruk van hoe groot haar sonde is dat sy na Jesus gekom het, sy voete nat gehuil het en toe met kosbare reukolie gesalf het. Gewoonlik was die reukolie gebruik om op die persoon se kop uitgegooi te word, maar sy ag haarself nie waardig genoeg om meer as net sy voete te salf nie.

Alhoewel daar verskillende temas in hierdie verhaal opgesluit is, is die hooftema die van Jesus se gesag. Simon wonder of Jesus werklik ‘n profeet is omdat Hy nie kon agterkom dat dit ‘n sondige vrou is wat hom aanraak nie, iets wat vir die Jode taboe was. Maar Jesus weet presies wie sy is en deur die kort gelykenis wil hy vir Simon en al die ander teenwoordiges juis uitwys dat hierdie vrou vanweë haar groot sondebesef by die regte bron van gesag kom aanklop het, Jesus self. Daarom gaan Hy ook voort om sy gesag verder te bevestig deur iets te doen wat net God kan doen naamlik om sondes te vergewe. Dit was so revolusionêr dat die wat daar was onder mekaar begin praat het: “Wie is hierdie man dat hy selfs sondes vergewe?” Groot sonde vra groot vergifnis wat net Jesus kan doen.

Gebed: Baie dankie dat u soveel gesag het dat u ook my sonde kan vergewe. Amen