Ben Fourie

“Kyk Ek lê in Sion ’n hoekklip, uitverkies vir die ereplek. Wie in Hom glo, word nooit teleurgestel nie.” 1 Petrus 2:6

Ons almal het seker al gesien hoe 'n nuwe gebou opgerig word. Eers word daar slote gegrawe volgens die patroon wat die gebou sal aanneem en dan word 'n beton fondament gegooi. In groot stede waar baie hoë geboue opgerig word, is die proses om fondamente te grawe baie groter want duisende tonne gewapende beton is nodig om die enorme gewig van byvoorbeeld ‘n gebou met dertig verdiepings te dra.

Lukas beskryf vir ons in die gelykenis van die twee fondamente in hoofstuk 6:48 so 'n bouery: “Hy is soos 'n man wat by die bou van sy huis die grond diep uitgegrawe en die fondament op die rotsbodem gelê het.” Daarteenoor is daar ook die man wat: “… sy huis bo-op die grond gebou het sonder 'n fondament.” Wanneer dit dan baie reën en die vloedwater afkom, is die resultaat heel voorspelbaar. Die huis wat 'n fondament het bly staan en die een daarsonder stort inmekaar.

Jesus gebruik hierdie storie van huisbou, iets wat ons almal ken en verstaan, om te sê hoe sinneloos dit is om na Hom te luister (godsdiens te beoefen) sonder om dit wat ons gehoor het te gaan doen. Ons kan ure in die kerk sit, gereeld Bybel lees, Bybelstudie geleenthede bywoon en tog bouers op die sand wees. Om te hoor van geloof maar nooit werklik te glo nie, om te hoor van liefde, maar nooit die liefde te gaan uitleef nie is soos om ’n gebou sonder fondament te bou. Teoretiese geloof en liefde sal onder druk van die lewe se vloedwaters verkrummel tot niks.

Die meeste mense se lewens is baie gejaagd. Gesinstyd ly daar onder, tyd om stil te raak voor God is daar dikwels nie. Sosiale media en ander nuuskanale bring nuus wat op enige plek ter wêreld gebeur, binne ure of selfs minute in ons hande deur middel van selfoon, internet en televisie. Baie hiervan is slegte nuus. Die druk op ons geestelike fondament is soms so enorm soos 'n gebou van dertig verdiepings. Dan het ek 'n baie stewige fondament nodig, Jesus die hoekklip. Dit is dan wanneer deurleefde geloof my staande hou, geloof wat oorgegaan het na die praktyk.

Gebed: Leer my om so na U te luister dat ek elke dag sal weet wat ek moet doen. Amen