Ben Fourie

“Gee aandag aan wat julle hoor! … “Wie het, vir hom sal daar nog meer gegee word; en wie nie het nie, van hom sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word.” Markus 4:24a-25

Bogenoemde is seker van die mees misverstaande en verkeerd aangehaalde verse in die Bybel. In die vorige hoofstuk begin Jesus vir die eerste keer om gelykenisse te gebruik om die verhaal van die evangelie en die koninkryk meer verstaanbaar te maak, maar gelykenisse is nie net vir die dissipels se inligting nie, hulle is voertuie van die Woord in die wêreld. En juis omdat dit so is vra Jesus sy dissipels om fyn te luister sodat hulle op hulle beurt die Blye Boodskap in die wêreld kan indra.

Hy gebruik dan die voorbeeld van ‘n lamp. Almal weet wat ‘n lamp is en wat die doel van ‘n lamp is. ’n Lamp hoort nie onder ’n emmer of onder die bed nie, maar op ’n staander van waar hy sy lig oor die hele vertrek kan uitstraal. ’n Lamp moet juis daar waar dit nog donker is sy lig uitstraal “…daar is niks weggesteek nie of dit moet in die lig kom”. Jesus het na die aarde gekom sodat alle mense kan hoor wie God is en wat God doen en omdat dit oor God en sy koninkryk gaan, kan daar nie foute met die boodskap gemaak word nie. Elkeen moet dus mooi luister sodat hy of sy die Boodskap suiwer in die wêreld kan uitdra.

Wat bedoel Jesus dan dat die maat waarmee ons meet ook gebruik sal word om vir ons te meet? Gewoon dat tot die mate waarmee ek die Boodskap aanneem, sal geestelike kennis aan my beskikbaar gestel word. Dit is eintlik ‘n heel logiese beginsel wat oraloor geld. Die skolier of student wat hard leer se kennis is meer omvangryk as die van die lui een en die persoon wat hard werk se inkomste is normaalweg groter as die een wat bietjie werksku is. Dit is natuurlik veral op geestelike terrein waar en dit is juis hiervan wat Jesus praat. Dit is ook wat bedoel word dat die wat baie het, nog sal bykry, terwyl die wat min het deur hulle eie toedoen geestelik al minder groei. As jy dit wat jy ontvang met ander deel, die lamp en sy lig, groei ook jou eie geestelike rykdom.

Gebed: Vergewe my dat ek so dikwels dit wat U my op geestelike terrein geskenk het deur my vingers laat glip. Amen