Ben Fourie

“In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun.” Hebreërs 1: 1-2.

Ons hele lewe bestaan uit ’n reeks van stories. Elke dag skep ons nuwe stories deur wat ons doen, waar ons gaan en wat ons sê. Ons kommunikasie met mekaar is om vir mekaar stories te vertel. Dit is natuurlik nie sprokies of fabels nie, maar ware verhale oor hoe ons die dag, ons werk, ons gesin en baie ander dinge beleef.

Die Bybel is ook ‘n groot “Storieboek” waar ons hoor hoe God met mense werk. Die Ou Testament is die storie van hoe God geskep het, vir Hom ’n volk uitgekies het en met hulle die pad deur Egipte en die woestyn tot in die beloofde land geloop het. Dit is ook die hartseer storie van Israel se sonde, hulle wegdwaal van God af en die ballingskap in Babilon. Gelukkig ook van hoe hulle na Hom toe teruggekom het in die tyd van Esra en Nehemia en Jerusalem en die tempel herbou het.

Die verskillende weergawes van die Evangelie is die storie van Jesus se lewe op aarde. Handelinge is die storie van die ontstaan van Sy kerk. Die briewe van die verskillende skrywers soos Paulus en Petrus is die storie van die vestiging van die kerk in die wêreld. Die Nuwe Testament eindig met die grootse verhaal van die Openbaring waar God vir ons meer van die geskiedenis en toekoms van Sy kerk vertel.

Jesus het graag vir sy volgelinge stories oor die lewe vertel. Na een so ’n storie, die oor die saaier, vra Sy dissipels vir hom in Matteus 13 vers 10: “Hoekom gebruik U gelykenisse (stories) as U met die mense praat?” In vers 13 vat Hy sy antwoord saam: “Om hierdie rede praat Ek met hulle in gelykenisse: omdat hulle kyk maar nie sien nie en hoor maar nie luister en verstaan nie.” Jesus gebruik dus stories om vir ons te help verstaan, om vir ons iets meer oor die koninkryk van God te leer, maar ook om ons te leer hoe om elke dag in ons gewone lewe so op te tree dat ons kan meewerk om sy koninkryk al meer in die wêreld sigbaar te maak.

Vir die volgende paar weke gaan ons elke dag na een van Jesus se gelykenisse kyk om te hoor en te sien hoe Hy deur ’n storie vir ons iets meer oor die lewe en ons eie lewensverhaal wil leer.

Gebed: Here help my om te verstaan hoe U wil hê dat ek my lewensverhaal tot u eer kan leef.