Lousie Gevers

“Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.  Johannes 15:5

'n Geskenk van 'n pragtige orgidee vol in blom wat ek twee jaar gelede ontvang het, was so spesiaal vir my dat ek die instruksies om dit te versorg noukeurig gevolg het. Diegene wat al die seën beleef het om 'n plant te versorg, sal my vreugde verstaan toe dit weer 'n keer geblom het! Ek het wel opgemerk dat daardie drag blomme vinniger afgeval het as die eerste blomme, maar ek het nie besef dat daar 'n probleem is totdat ek opgemerk het dat sommige blare begin verlep het en toe een vir een afgeval het nie. Ek het die orgidee uit die pot gehaal en die potgrond verwyder, net om tot my afgryse te sien dat sommige van die wortels reeds sag en swart geword het, in plaas van ferm, lewendig en groen soos die ander. Die verrotte wortels was nie langer met die potgrond verbind nie en die plant was besig om, ten spyte van my maandelikse dosis plantvoedsel, stadig maar seker dood te gaan waarvan die blare een vir een getuig het. Ek moes die verrotte wortels verwyder en die plant oorplant sodat dit weer met sy voedingsbron kon verbind. Wonderbaarlik het die wortels weer met die voedingsbron verbind en die blare het uitgeswel.

Is dit nie baie soos ons behoefte om aan ons lewensbron verbind te bly nie? Wanneer ons as die lote van sy wingerdstok in Hom bly, voorsien Hy alles wat ons nodig het om 'n goeie, produktiewe lewe te lei wat soos die orgideeplant, pragtige, waardige blomme dra. Ons bron is die Een wat gesê het: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; …" (Johannes 11:25) Hy alleen kan dit vir ewig vir ons gee; sonder Jesus kan ons niks doen nie.

Kyk jy na jou blare? Dit is noodsaaklik om aan God verbind te wees, en tog is die hoeveelheid tyd wat ons met Hom spandeer veel minder as die tyd wat ons op ander dinge spandeer. Soms raak ons so verstrengel in wêreldse dinge dat dit vir ons as Christene moeilik is om keuses te maak. Dit is maklik om so deur werk, gewoontes en tydverdrywe oorheers te word dat dit al ons tyd en energie opneem en dit nie 'n positiewe uitwerking op ons verhouding met God en met ander het nie. Ons moet besef wanneer ons wortels begin om swart te word, en dan moet ons die verrotte dele wegsny sodat die fyn, groen worteltjies wat nog daar is, kan herleef en ons weer deur ons Bron van lewe gevoed kan word.

Dit kan slegs gebeur as ons in Hom bly, "en die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus." Flippense 4:7)

Gebed: Vader, help my om aan Jesus verbind te wees en om vir ewig in Hom te bly.  Amen