Louise Gevers

Gelukkig is die volk met wie dit so gaan. Dit gaan goed met die volk wie se God die Here is!  Psalm 144:15

Geluk is iets waarna mense verlang, iets waarna hulle smag – iets wat mense ontwyk, want dit beteken verskillende dinge vir verskillende mense. Dit is ook vlietend as ons dit meet aan die tye wat ons liefhet, lag en onsself geniet. Soos die geval is met baie mense vandag, het koning Salomo ook die lewe betekenisloos gevind. Sy raad was: "Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet, dié lewe wat tot niks kom nie, maar wat God jou in hierdie wêreld gegee het, die hele lewe wat tot niks kom nie." (Prediker 9:9) Hierdie woorde is verrassend komende van die man vir wie God gesê het: “Vra wat Ek jou moet gee.” (2 Kronieke 1:7) Salomo se antwoord moes miskien gewees het: "Gee asseblief aan my dit wat U weet die beste vir my is en wat vir my geluk sal bring."

Salomo het wel besef dat liefde 'n bron van geluk is, asook eerlikheid, werksbevrediging en om God te dien en sy gebooie te gehoorsaam. (Prediker 12:13), en tog kom hy in die algemeen in sy geskrifte baie moedeloos oor. Ek kry Salomo altyd baie jammer want ten spyte daarvan dat God hom ryklik met wysheid en rykdom geseën het, is hy voor die koms van Jesus na die aarde gebore, en dus te vroeg om die oorvloedige lewe te beleef wat net Hy kan gee. Selfs al het hy oor groot wysheid en rykdom beskik wat sy koninkryk versterk het, het hy gevind dat alles tot niks kom nie. Hy het in die strik getrap om deur rykdom en vrouens na meer status te soek en dus het hy nie langer op God, wat hom geseën het met meer as wat sy hart begeer het nie, gefokus nie, maar wel op afgode.

Die waarheid is dat ons die hele wêreld as wins kan verkry, maar ons siel kan verloor (Markus 8:36) en soos Salomo kan vind dat alles "tevergeefs" is. Of soos die ryk jong man, wat nadat hy vir Jesus gevra het wat hy moet doen om die ewige lewe te verkry, weggegaan het, diep teleurgesteld want hy was baie ryk (Lukas 18:23) want Jesus het vir hom gesê hy moet alles wat hy het gaan verkoop en die geld vir die armes gee. As ons aan ons seëninge vasklou kan dit ons geluk vernietig. Soms geniet ons onsself so dat ons nie die gevare raaksien nie.

Paulus sê: "… sodat hulle God se geheimenis kan ken. Die geheimenis is Christus, en in Hom is al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind. (Kolossense 2b-3) Wat hy hiermee bedoel is: ware en ewige geluk is om Jesus te ken, want Hy alleen kan die skatkis van geluk vir ons ontsluit. Ons mislei onsself soms deur te glo wat ons sien en leef dan 'n lewe volgens voorkoms eerder as volgens die waarheid, die teenoorgestelde van wat die Bybel ons leer. God gun geluk aan almal wat Hom dien. Die Engelse Good News vertaling stel dit baie mooi: “Happy are those whose greatest desire is to do what God requires; God will satisfy them fully!” (Matteus 5:6)

Gebed: Vader ons weet ons is op ons gelukkigste wanneer ons die ware betekenis van ons lewens vind deur Jesus te volg en Hy vir ons die verborge skatte ontsluit. Dankie vir die geluk wat ons as u kinders vind deur ons seëninge met ander te deel. Help ons om ware geluk in U te vind. Amen