Louise Gevers

Sien my in genade aan, Here, want ek is eensaam en verstote. Ek verkeer in die allergrootste nood; bevry my tog uit my ellende.  Psalm 25:16-17

Of jy 'n fisiese gebrek het, bedlêend is, ver weg van jou geliefdes is, misverstaan word, nie genoeg waardeer word nie, of verwerp word deur diegene vir wie jy omgee (en diegene vir wie jy nie omgee nie), in pyn verkeer, bang is of skuldig voel, eensaamheid is 'n werklikheid wat, ondanks jou ouderdom of omstandighede, angs en hartseer saam met dit bring. Wanneer dit 'n geval is van gee en neem, is daar 'n verbintenis met ander mense, maar wanneer dit afwesig is, mag ons alleen voel selfs wanneer ons tussen mense is.

Dit is nie hoe God dit bedoel het nie. Hy het gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie" (Genesis 2:18) en deur die proses wat Hy gebruik het om Eva uit Adam te maak, het Hy bewys dat Hy bedoel het dat hulle aan mekaar verbind moet wees. Hy het ook gesê: “Wees vrugbaar, word baie." (Genesis 1:28, 9:7)

Salomo het gesê: "Twee vaar beter as een." (Prediker 4:9-12), hulle hou mekaar warm en kan weerstand bied. Eensaamheid en swakheid word dikwels met mekaar verbind – baie soos probleme en bekommernis. Die een voed die ander en ons kyk so vas teen ons behoeftes en oortuig onsself van 'n onvermoë om dit aan te spreek. Ons voel sterker en lewenskragtiger wanneer ander mense by ons is, veral wanneer ons vermoed dat ons in diep water is en dat ons omstandighede dreig om ons te oorweldig.

Dawid se gebed kan vandag ook ons gebed wees. Selfs al was hy die koning en hy alles kon kry wat hy wou hê, was hy eensaam en het hy besef dat hy nie hulp van aardse dinge kon kry nie. Hy het besef dat iets binne in hom aandag benodig het wat slegs God kon vul. Sy eensaamheid het gekom omdat hy nie aan God verbind was nie, wat hy wel bely het. Hy het geweet dat God die situasie kon verander en hom van al sy probleme kon bevry. Hy pleit by God en sê: "Kyk hoe sleg gaan dit met my en hoe swaar kry ek. Vergewe tog al my sondes." (Psalm 25:18) Dit is bevrydend om te identifiseer en te erken hoe ons voel, maar selfs nog beter om ons harte uit te stort teenoor 'n simpatieke luisteraar wat ons kan help. Soms moet ons ook ons sondes bely, en God herstel ons volkome.

Diegene wat in 'n verbintenis met God en met ander mense is, voel selde alleen, maar wanneer dit wel gebeur, is hulle daarvan oortuig dat God hulle nooit verlaat nie, en dat Hy die roep van hulle harte hoor selfs voordat hulle dit verwoord het.

Tye van eensaamheid kan eintlik voordelig wees as ons dit effektief gebruik om, soos Dawid, nader aan God te groei. Ons probleme is nie so belangrik nie, maar wel die manier waarop ons dit hanteer, en ons het 'n keuse wat die uitkoms sal bepaal.

Gebed: Maak my u wil bekend, Here, leer my u paaie. Laat u waarheid my lei en onderrig my daarin, want U is God, my redder. In U stel ek elke dag my verwagting.  Amen (Psalm 25:4-5)