Louise Gevers

Aangesien julle dan Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle in verbondenheid met Hom lewe, in Hom gewortel en op Hom gebou, vas in die geloof soos julle geleer is, en met dankbaarheid vervul.  Kolossense 2:6-7

Dankbaarheid is iets wat ek gedurende die lang maande van die abnormale droogtetoestand in die Wes –Kaap toenemend omhels. Pragtige blou lug en 'n prentjie-mooi omgewing met eksotiese blomme wat wonderlik in die droeë toestande floreer en ten spyte van droeë, bruin gras en verlepte tuine, is ek nogtans dankbaar want ek het besef dat God ons in alle omstandighede seën.

Op soek na maniere om water aan te vul is 'n voortdurende uitdaging, maar dit is opwindend om 'n paar plantjies aan die lewe te hou met water wat gewoonlik by die drein af sou vloei; en dit is wonderlik en inspirerend om te sien hoe plante oorleef want hulle wortels gaan diep af in die aarde. Dit is egter nog meer opwindend wanneer die reën val en ons weet dat die Here ons gebede beantwoord het! Is dit nie 'n gelykenis vir ons wat Christus as die bron het nie?

Elke reën- of doudruppel, stortreën of donderstorm – alles buite seisoen – was vir my 'n bewys van God se genade en het meer vreugde gebring as wat strome van reën binne seisoen nog ooit by my laat opkom het. Trouens in tye van oorvloed, hoe dikwels kla ons nie dat dit nou genoeg is nie? In tye van nood neem ons dankbaarheid toe want ons raak bewus daarvan dat ons afhanklik is van Christus en ons groei nader aan Hom. Wanneer ons dinge as vanselfsprekend aanvaar verhinder dit dat ons dankbaar is en beroof dit ons van ons vreugde. 'n Dankbare hart maak ons ten spyte van omstandighede bly, want ons groei in ons geloof.

Paulus sê vir die Tessalonisense "wees in alle omstandighede dankbaar" (1 Tessaslonisense 5:18) want dit is maklik om in goeie tye dankbaar te wees, maar in moeilike tye bewys dankbaarheid dat ons Christus volkome vertrou om ons deur te dra. Vind jy dit moeilik om dankbaar te wees, beteken dit miskien dat jy 'n droogte beleef – so oorlaai is met die dinge van die wêreld dat jou fokus nie meer Christus is nie.

Elkeen ondervind probleme, maar wanneer ons oorweldig voel moet ons onthou wat Jesus sy dissipels geleer het " … dat 'n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word." (Lukas 18:1) Ons kan ons Rots nader, ons seëninge opnoem en elke situasie met 'n dankbare hart in die geloof aan Hom toevertrou.

Gebed: Here, U hou alles in die palm van u hand. Op die regte tyd laat U die donker wolke saampak wat die reën bring om die droeë aarde te deurweek en ons verlangende harte te bevredig. Gee dat ons dieper in Jesus gewortel sal word, ons geloof sterker sal word en ons lewens op Hom gebou sal wees. Gee dat ons in alle omstandighede dankbaar sal wees. Amen