Louise Gevers

Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: “Dit is mý reg om te straf; Ék sal vergeld,” sê die Here. “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte.” Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie. Romeine 12"17-21

Wat vandag se Skrifgedeelte ons vertel is nie maklik nie want dit druis in teen ons natuurlike aard, maar ons weet dat dit reg is, want dit is wat Jesus gedoen het en Hy stel ons die voorbeeld. Ons weet dat om iemand seer te maak omdat die persoon ons seergemaak het, is nie die antwoord nie en om kwaad met kwaad te vergeld lei net tot bitterheid en weerwraak. Vergelding is nie ons prerogatief nie, maar om kwaad met goed te oorwin is wel. Dit lei tot welwillendheid, vergifnis en vrede.

Dit is miskien vir ons verskriklik om van al die misdaad in die media te lees, en van hofsake te hoor wat geregtigheid moet laat geskied, maar dit nie doen nie. Ons word egter dieper geskok deur mense wat die wet in eie hande neem en verkeerde dade doen om geregtigheid sogenaamd te laat geskied.

'n Afgetrede sendelingvriendin vertel met 'n tikkie humor van haar ondervinding toe 'n inbreker op 'n keer by haar huis ingebreek het. Hy het gesê dat hy honger was en sy het toe vir hom 'n toebroodjie gemaak, maar wat haar laat glimlag het, is dat sy in daardie buitengewone omstandighede sowaar vir hom gevra het of hy konfyt op sy broodjie wou hê. Sy het kalm gebly in hierdie omstandighede wat seker vreesaanjaend moes gewees het vir 'n ou dame wat op haar eie woon, en sy het dit as 'n geleentheid gesien om letterlik vir haar vyand "iets [te] gee om te eet" en so Christus se liefde te bewys. Sy het geen newe-effekte oorgehou nie en het positief en rustig aangegaan met haar lewe.

Die invloed wat een persoon deur 'n enkele daad kan uitoefen, kan lewensveranderend wees. Dit is dus belangrik vor ons as Christene om te leer om Christus te eer en om sy voorbeeld om ons vyande lief te hê, na te volg, self in verskriklike omstandghede. Dit sal altyd positiewe gevolge hê, selfs al verstaan ons dit nie hier op aarde nie. Deur God te eer, verheerlik ons Hom en vir ons hou dit 'n ewige beloning in. Ons hoef nie boek te hou van almal wat ons seergemaak het nie, maar ons moet diegene wat dit gedoen het, vergewe. Om 'n wrok te koester beïnvloed ons verhouding met God, met die persoon en soms met mense wat die persoon ken en so word ons in 'n web van bitterheid vasgevang.

Die teksvers "Seën julle vervolgers, ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie," (Romeine 12:14) laat ons nie toe om onsself te regverdig en ander te vervreem nie. Instede deur gehoorsaam te wees, bewys ons liefde en bly ons in die krag van die Heilige Gees waar daar geen ruimte vir vyandigheid en wraak is nie.

“Christus het geen liggaam op aarde behalwe joune nie."

Gebed: Here Jesus, help my asseblief om deur my vyande te seën U te eer en te verheerlik en sodoende die kwaad met goed te oorwin. Amen