Louise Gevers

Met die oog op mense wat seker was dat hulle eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel:  Lukas 18:9

Wees eensgesind onder mekaar. Moenie hooghartig wees nie, maar skaar julle by die nederiges. Moenie eiewys wees nie.  Romeine 12:16

Die verbasendste vraag wat Jesus op 'n keer aan 'n Joodse leier gevra het, was: “Waarom noem jy My goed? Wat 'n ongelooflike vraag komende van die enigste Een wie God werd geag het om te sterf vir die sondes van die wêreld! Natuurlik het Jesus geweet dat die man dit net as vleitaal of ironie bedoel het, maar Hy sê verder: "Niemand is goed nie, behalwe God alleen." (Lukas 18:19) Wanneer ons oor die persoon van Jesus nadink besef 'n mens dat Hy God is en tog, het Hy … Homself verneder deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem ... het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis." (Filippense 2:7-8) 'n Ongelooflike voorbeeld vir ons van ware nederigheid.

Baie mense het Jesus toe nie geglo nie, en baie glo Hom vandag nie, tog glo baie mense werklik dat hulle goed is, en in werklikheid dikwels beter as ander mense is en verdien om daarvoor erkenning te kry. In die gelykenis van die Fariseër en die Tollenaar, maak Jesus dit duidelik dat beide mans sondaars is en beide het 'n behoefte aan verlossing, selfs al is die man van God op die oog af meer respektabel as die tollenaar wat baie mense as 'n skelm beskou het.

In die verloop van die gebede openbaar elke man egter die ware toestand van sy hart. Die Fariseër dink nie hy het sondes om te bely nie en hy lys die sondes van ander, dank God dat hy nie soos hulle is nie en gaan dan voort om sy goeie kwaliteite te noem. Die tollenaar aan die ander kant is skaam oor sy sondes. Hy kyk af, slaan op sy bors en pleit by God vir genade. Jesus kom tot die slotsom dat "hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word.” (Lukas 18:14)

Jesus behandel almal gelyk; Hy weet dat ons almal sondaars is en dat ons almal dieselfde behoeftes binne in ons het. Uiterlike ordentelikheid beteken niks as ons in ons harte hoogmoedig is, op ander neersien en hulle as uitgeworpenes behandel, terwyl ons vergeet dat ons ook volgens God se standaarde sondig en skuldig is. Indien ons, soos die tollenaar, 'n nederige hart het, sal ons ons skuld erken, ons sondes bely en God vra om ons genadig te wees, en dan wegstap met 'n ligte hart, gereed om Hom te dien.

Gebed: Here God, dankie dat U alleen goed is en dat U die twyfel in ons harte verwyder. Verander my hart en my denke sodat ek kan sien dat ek nooit goed kan wees nie, hoe hard ek ook al probeer. Ek sal ook nooit in staat wees om myself goed te maak nie, maar in nederigheid kan ek my sondes bely en dan sal ek deur u genade vergifnis ontvang, asook blydskap in u teenwoordigheid. Ek bid dit in Jesus se Naam. Amen