Louise Gevers

Julle is self ons aanbevelingsbrief, geskryf op ons harte, vir almal om te lees en te verstaan. Dit is tog duidelik dat julle 'n brief van Christus is, deur ons diens geskrywe, nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God, nie op klip nie maar op die harte van mense.

2 Korintiërs 3:2-3

“Lord Jesus, may I grow like You, loving, kind in all I do. Help me in my work and play; walk beside me all the day. Amen.” Hierdie Engelse kindergebedjie in sy eenvoud en begeerte vat die basis van die Christelike lewe pragtig saam. Ons moet elke dag wat ons Jesus volg, meer en meer soos Hy word. Paulus in sy skrywe aan die Korintiërs gebruik die voorbeeld van 'n brief om die harte te beskryf van diegene wat deur die krag van die Heilige Gees lewende getuienisse vir Jesus is. Ander kan hulle 'lees' soos hulle 'n brief lees, en sien dan kwaliteite in hulle waaroor Jesus beskik.

Alhoewel ons op verskillende maniere welwillendheid kan bewys, is dit 'n rare kwaliteit in ons onverdraagsame wêreld. En tog is dit 'n kwaliteit wat wanneer dit aan iemand bewys word, kan uitkring. Welwillendheid is liefde in aksie en dit kom uit 'n hart wat omgee en waar die Heilige Gees reeds gewerk het. Jesus was die volmaakte voorbeeld van welwillendheid in sy optrede teenoor die mense van sy dag. Hy het die voorbeeld gestel want "toe Hy die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie 'n wagter het nie." (Matteus 9:36)

Jesus was liefdevol teenoor almal. Hy het omgegee dat die skares wat gekom het om na Hom te luister, honger was en het vir hulle kos gegee, selfs al was daar duidende wat gevoed moes word. Hy was nie ongeduldig met kinders nie maar het toegelaat dat hulle na Hom toe kom, al was Hy moeg. Hy het omgegee vir diegene wat uit die samelewing verban is, hy het die melaatses genees – die mense wat uit openbare plekke verdryf is en wat moes skreeu, "Onrein! Onrein!" om ander te waarsku dat hulle kom; Hy het saam met die belastinggaarders geëet; en Hy het vroue met waardigheid en respek hanteer, ondanks wie hulle was en wat hulle toestand was. Hy was 'n vriend van die wat honger was, van die melaatses, die tollenaars, die siekes, die wat besig was om te sterf en selfs van die sondaars. Is ons?

Teresa van Avila het in die 16de eeu gesê: "Christus het geen liggaam behalwe joune nie. Geen hande, geen voete op aarde behalwe joune nie. Joune is die oë waardeur Hy met medelye na hierdie wêreld kyk … "

Dit is 'n uitdaging vir ons om ons lewens te ondersoek om te sien of ander ons as "'n brief van Christus" sien wat sy welwillendheid en liefde aan 'n wêreld in pyn bewys.

Gebed: Vader, open my oë vir die lyding en behoeftes om my, en gebruik my om Jesus se welwillendheid en omgee aan 'n oorstuurde wêreld wat hulpeloos sonder U is, te bewys. Amen