Louise Gevers

Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself. Iemand wat altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is soos een wat na sy gesig in 'n spieël kyk: hy bekyk homself, gaan van die spieël af weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat 'n mens vry maak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen.  Jakobus 1:22-25

"Vir ure bestudeer die man sy gesig in 'n spieël. Die oë wat diep in die kaste sit. Die grys stoppels op sy ken. Die diep kepe op sy voorkop. Dit is sy gesig, maar dit is 'n verstommende openbaring. Hy het dit vir 53 jaar nie gesien nie. Hy onthou nie meer die naam wat saam met die gesig gaan nie."

Hierdie is 'n vrye vertaling van 'n verslaggewer van die Chicago Tribune se aangrypende beskrywing van die trauma wat die laaste gevangene van die Tweede Wêreldoorlog wat deur Rusland aangehou is, beleef het toe hy homself weer gesien het. Die Hongaar is slegs in 2000 vrygelaat aangesien die persone wat hom gevange geneem het nie sy taal kon verstaan nie en daar is toe vermoed dat hy 'n skisofreen is en hy is in 'n inrigting vir geestelik versteurdes geplaas. 'n Besoekende psgiater het sy Hongaarse dialek erken en het besef dat 'n tragiese fout begaan is. Hy het die man se vrylating gereël want hy was nie geestelik versteurd nie. Maar vir jare was hy deur hierdie misverstand nie met die werklikheid in verbinding nie en is ook van die voorreg ontneem om homself te sien.

Die samelewing heg baie waarde aan uiterlike voorkoms, maar aandag aan innerlike welsyn is net so belangrik. 'n Spieël is 'n goeie hulpmiddel in ons alledaagse lewe want dit help om ons waardigheid te beskerm. Indien jy vergeet het om jou hare te borsel, of daar is nog tekens van ontbyt op jou ken, sal een kykie in die spieël jou gou laat besef om jou eers respektabel te maak voordat jy die huis verlaat. Die spieël hou ons in voeling met realiteit.

Vir die nagaan van ons geestelike lewe, stel Jakobus vir ons die Woord as 'n spieël voor. Hierdie spieël stel ons in staat om na ons innerlike te kyk en daardie dinge raak te sien wat in konflik is met God se waarheid en wat reggestel moet word, net soos ons ons uiterlike voorkoms in 'n spieël sien en dit wat verkeerd is moet regstel. Jakobus sê dat ons ons moet "verdiep in die volmaakte wet wat 'n mens vry maak" en dit gereeld moet doen. Natuurlik is dit makliker om ons ontbyt van ons ken af te vee as om vernietigende leefstyle en gewoontes te verander, maar deur te doen wat die Woord sê word ons bekragtig om dinge wat ons gevange hou te oorkom en sal ons daardeur seën ontvang.

Ons hemelse Vader wag elke dag vir ons om in sy spieël, wat ons met Hom verbind, te kyk sodat Hy ons op die lewensweg kan bemoedig. "Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood, maar die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede." (Romeine 8:6)

Gebed: Here, ek moet deur u Woord my geestelike welstand nagaan. Help my om te reageer op dit wat ek waarneem en om nooit te vergeet wie ek in U is nie. Amen