Louise Gevers

Daarmee vernietig ons die redenasies en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. … 2 Korintiërs: 10:4b-5

Dink jy die Hemel = Disney World? 'n Mens kan dit seker glo as jy die lirieke van 'n populêre liedjie glo dat "heaven is a place on earth" of Your Dictionary.com wat sê dat die gelukkigste plek op aarde Disney World is, maar ons sal jou dan maar moet vergewe vir jou verkeerde logika. Ons glo nie doelbewus die woorde van gewilde liedjies of aansteeklike advertensieklingels wat ons daagliks hoor nie, maar dit beïnvloed ons gewoonlik meer as wat ons vermoed. Dit laat ons tog soms twyfel.

Ten einde te onderskei tussen die waarheid en misleiding en om wyse besluite te kan neem, moet ons deur die subtiele leuens kan sien wat die wêreld aan ons voorhou. Van 'n vroeë ouderdom word ons denkpatrone, houding en filosofieë beïnvloed deur ons gesinswaardes, opvoeding, kultuur en die media. Maar ons kan kies wat ons onsself toelaat om te glo. Indien ons die waarheid geleer is, sal ons nie maklik mislei word nie, maar as ons nie die waarheid ken nie, kan ons maklik 'n prooi word van populêre misleiding. Soms verkies ons dit wat aantreklik lyk, eerder as om God se Woord te raadpleeg.

'n Reël in 'n moderne aanbiddingslied gee 'n bondige opsomming van die aard van die probleem van misleiding wat die mens algemeen ervaar. "Innocense traded for a lie" het vir die eerste keer in die Tuin van Eden plaasgevind en gebeur vandag steeds. Dit is daardie oomblik wat ons die weg van God ignoreer en ons die waarheid onderdruk (Romeine 2:18) en toegee aan 'n persoon se slim redenasies of arrogante aansprake; en daardie daad het gevolge wat ons lewens vir altyd kan verander. Dit is die plan van alle misleiding.

Die waarheid is dat die "vader van die leuen" (Johannes 8:44) subtiel is en hy gaan nie met horings en 'n stert verskyn wanneer hy probeer om jou denke en jou wil te oorwin nie. Sy benadering is geloofwaardige, oortuigende leuens wat baie aanloklik en onweerstaanbaar is. Hy voorsien argumente en aansprake wat ons as wapens in ons gedagtes teen die waarheid van God gebruik. Paulus het dit besef. Sy direkte benadering en beginselvaste woorde het verseker dat niks in sy denke belangriker as Christus was nie.

Hanteer ons leuens en valsheid op die manier? Om dit te sien vir wat dit is sal ons help om geestelik waaksaam te wees en nie die duiwel 'n kans te gee om 'n vastrapplek in ons denke te kry nie. "Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, … (Psalm 1:1)

Gebed: Hemelse Vader, help ons asseblief om te besef dat ons samelewing die waarheid werklik ernstig benodig. Help my om altyd in verbinding te wees met die waarheid deur Jesus wat die weg, die waarheid en die lewe is. Amen