Louise Gevers

"Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie,” en wat in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet. Aan ons dan het God dit deur die Gees bekend gemaak, want die Gees deursoek alle dinge, ook die diepste geheimenisse van God."  1 Korintiërs 2:9-10

Meeste van ons hou daarvan om na spanningsvolle dramas te kyk en krap graag kop om soos die verhaal ontplooi met die hulp van leidrade wat ons kry, uit te werk "wie die skuldige is". In elke verhaal is daar altyd iemand wat op 'n briljante manier tot gevolgtrekkings kan kom, en wat begrip het vir dit wat gebeur het en aan die einde die raaisel kan oplos en alles openbaar en ons verstom laat oor sy wysheid. Ons geniet dit want die lewe in al sy kompleksiteit is dikwels ook 'n raaisel wat ons probeer om op ons eie op te los, maar ons weet tog dat ons hulp benodig.

Die Heilige Gees kan ons help want Hy is die krag van God met 'n inteime begrip van die lewe en van ons. Hy inspireer ons om ons harte vir God te open. Hy "deursoek alle dinge" en is daardie skitterende Persoon wat die waarheid duidelik maak in ons lewens, motiewe wat ons in ons harte wegsteek, openbaar en vir ons duidelik maak wat dit is wat ons verhinder om tussen God se stem en van die van die wêreld te onderskei. Ons is dikwels nie bewus van die bedrieglikheid van ons harte nie (Jeremia 17:9), maar die Gees is welwillend en Hy pleit by ons om aan te hou in die geloof – veral in moeilike tye wanneer ons onsself skaars verstaan. "Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing." (2 Timoteus 1:7)

Wanneer ons aan die Gees verbind is, wys Hy ons hoe, wanneer ons ons voor God verootmoedig, Hy ons swakheid kan gebruik. Hy help ons om ons pyn te verwerk; Hy werk geduldig deur vorige ondervindindings wat ons verhard het en wat ons skanse laat oprig het om onsself te beskerm; Hy help ons om te vergewe. Wanneer ons dit moeilik vind om in ons lewe met ander opofferings te maak, moedig Hy ons aan om ons wil oor te gee. Die Gees oortuig ons en moedig ons aan deur die Woord. Hy inspireer ons deur die prentjie van ware gemeenskap wat Hy met die Vader en die Seun geniet, terwyl hulle met hart en siel saamwerk.

Wanneer ons gereeld met die Gees in verbinding is, is die resultaat die vrug van die Gees van "liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid nederigheid en selfbeheersing." (Galasiërs 5:22-23) wat in ons lewens duidelik word. Dit sal ons help om met die raaisels van die lewe te deel en ons in staat stel "om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek, [en] sy liefde [te] ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en … heeltemal vervul [te] word met die volheid van God." (Efesiërs 3:18-19)

Gebed: Dierbare Heilige Gees, dankie vir u stil, sterk teenwoordigheid in my lewe. Ek vertrou op u waarheid en integriteit om my te lei, en om daardie dinge uit te wys wat ek probeer wegsteek en wat my geestelike groei belemmer en wat my nie deelagtig laat wees aan dinge wat God vir my voorberei het om hier op aarde en in die hiernamaals 'n vol lewe te geniet nie. Amen