Louise Gevers

Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.  Romenine 12:2b

As jy goed in 'n toets wil vaar, moet jy die feite ken; as jy 'n situasie wil beoordeel moet jy oor die feite beskik. Toekomstige werkgewers vind 'n CV behulpsaam want dit verskaf 'n rekord van die potensiële kandidate se kwalifikasies en ondervinding, werkgewers benodig al die feite om die beste kandidaat te kan kies. God weet dat iemand wie se denke vernuwe is ook al die feite benodig om sy volmaakte wil te kan onderskei, daaroms gee Hy aan ons sy CV om die weg deur die lewe te vind.

Die Bybel is God se CV, die roemrykste denkbaar en beskikbaar vir almal. Daarin vind ons hoe Hy elke moontlike situasie op aarde bestuur. Om maar net 'n paar te noem, liefde en verraad, wysheid en dwaasheid, siekte en genesing, verkragting, ongeregtigheid en verlossing – ons moet maar net soek. Daar is geen situasie te moeilik vir Hom nie. Hy gee ons die Woord want dit "het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en 'n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk." (2 Timoteus 3:16-17) Elke ondervinding is 'n geleentheid vir ons denke om vernuwe te word en om God se wil beter te ken en te verstaan, wat ons weer vir die volgende ondervinding voorberei. Wat ook al die situasie, Hy berei ons voor en ons is altyd verbind aan sy wil.

Paulus, as 'n Fariseër, het God se Wet deeglik geken en hy was baie trots op sy erfenis. Maar toe hy Jesus op die Damaskuspad ontmoet het, is sy lewe egter heeltemal verander. Hierdie ondervinding het beteken dat hy God se wil volgens die volkome nuwe manier van die evangelie moes onderskei, dus vanuit 'n volkome nuwe perspektief –Jesus wat die Wet vervul het. Die ou Saulus sou nooit in die tronk gesit het en lofliedere tot God gesing het nie, maar die nuwe Paulus kon met denke wat vernuwe is, hierdie ondervinding toets en sy tronksel het 'n plek van aanbidding geword. (Handelinge 16:25) Nederigheid, aanvaarding en blydskap het sy denke gevul – 'n duidelike goedkeuring van God se wil vir hom op daardie tydstip.

Wat is jou "gevangenis" ondervinding?

Net soos Paulus, kan ons ook in alle omstandighede bly wees. Ons is in 'n dinamiese plek want ons het die Woord. Ons kan elke ondervinding wat ons beleef daaraan toets en "onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is." Dit verander ons houding en die manier wat ons sake beskou. En dit wat ons met ons verstand begryp word kennis van die hart wanneer ons ondervind "dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is." (Romeine 8:28)

Watter voorreg en blydskap om oor die feite te beskik.

Gebed: Here Jesus, verander en vernuwe my elke dag en skenk aan my die krag om u goeie, aanneemlike en volmaakte wil vir my lewe te onderskei. Amen