Louise Gevers

Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.  Romeinde 12:2

Wanneer ons na 'n ruspe kyk, dink ons feitlik nooit aan wat dit gaan word nie. Alhoewel ruspes fassinerend is om na te kyk, is hulle vir ons net te klein, harig en aardgebonde om enigsins 'n toekoms vir hulle te sien; en tog verlaat hulle die aarde en verdwyn in 'n kokon waar hulle verander word en dan as 'n pragtige skoenlapper weer te voorskyn kom, vry van hulle gevangenskap en in staat om te vlieg. Die onaansienlike wurm word agtergelaat en die transformasie voltooi God se plan vir dié wurm.

In baie gevalle is ons ook soos die ruspe aardgebonde; ons kruip net oor die aarde sonder om God se wil of doel vir ons te verstaan. In 'n wêreld wat uit voeling is met God se plan, raak ons as mense ook uit voeling met wie ons is. Ons raak so vasgevang in ons probleme en dit maak ons so negatief dat ons glo dat ons nie opgewasse is om dinge te hanteer nie. Dit beperk ons denke en ons versuim om ons probleme oor te gee aan die Een "… wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink". (Efesiërs 3:20)

Ons moet verander word – Christus het gesterf om ons vry te maak! Ons moet onderskei wanneer dit God se werke is en in alles doelbewus liefde, dankbaarheid en nederigheid kies en nie langer "aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie". Sy Gees help ons om in verbinding te tree met wie ons as veranderde mense is en maak ons vry om nie ons eie slegte publisiteit te glo nie.

Verandering beginmet die denke. Wanneer ons ons harte oopmaak vir Jesus wat geen beperkings ken nie, verander Hy ons ou denke en geniet ons 'n onbeperkte verbintenis met Hom. Hy sien geen probleme nie – Hy sien oplossings. Ons negatiwiteit verander na, "Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee." (Filippense 4:13)

Ons sien die mooi raak en dit gee vreugde. Ons verbly ons in opregtheid, in die wonder van die skepping, geregtigheid vir die onderdruktes, gesinne wat tevrede saamwerk, respek vir bejaardes, liefde wat haat oorkom, mense wat met integriteit werk, sterkes wat swakkes beskerm, die waarheid wat korrupsie oorwin. In moeilike omstandighede beleef ons die vrede wat Jesus beloof het, ware kalmte, "… nie die soort wat die wêreld gee nie " (Johannes 14"27) want die wêreld sal nooit vrede ken nie – dit maak sy eie reëls. Glo ons werklik dat klei die pottebakker maak?

Verandering sal ons bewus maak van ongeregtigheid, gierigheid, egotisme en die wellus en afgodery wat in die wêreld teenwoordig is. Die Heilige Gee sal daagliks ons denke vernuwe en aan ons die krag gee om versoekings te weerstaan.

Gebed: Liewe Vader, bly asseblief naby my. Verwnuwe my denke en red my van die strikke wat die wêreld vir my span. Gee dat u weë ook my weë word en gehoorsaamheid aan U my vreugde word. In Jesus se Naam. Amen