Louise Gevers

Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê. 1 Johannes 3:16

Ons almal wil graag aanvaar word en aan iemand behoort. Om iets met ander te deel, help ons om te ontdek wie ons is en laat ons gewaardeerd voel. Dit begin met ons geboorte in 'n gesin. Dit is waar ons vir die eerste keer aan ander behoort en waar ons ons waardes en sosiale standaarde leer. Terwyl ek per trein in 'n ander land gereis het, het ek nie verwag om hierdie soort instruksies te sien nie. Diegene in beheer het egter besluit om openbare vervoer te gebruik om algemene higiëniese beginsels te bevorder wat mense van verskeie lande wat hulle daar gevestig het, met mekaar verbind.

Hierdie wysheid geld ook sprituele sake. As Christene, wat deur die kruis met mekaar verbind is, beleef ons presies dit. Dit maak nie saak wie ons is, van watter land ons kom nie, watter taal ons praat of watter kleur ons is nie, want ons behoort aan Christus en deur Hom in 'n opofferende manier ook aan mekaar. Mensgemaakte verdeling en vooroordele is nie geldig in die koninkryk van God nie, ook nie in die lewens van sy kinders nie. God se gebod is: "Ons moet in sy Seun, Jesus Christus, glo en ons moet mekaar liefhê ooreenkomstig die gebod wat Hy ons gegee het." (1 Johannes 3:23) Jesus was volmaak aan sy Vader verbind en stel die voorbeeld vir ons om te volg en dieselfde te doen. Jesus het sy beginsels uitgeleef. As ons sy volgelinge is, behoort ons dit ook te doen.

Die impak van die kruis met sy veranderende en verenigende krag, is ontsagwekkend. Iets wat eens 'n instrument van 'n wrede dood was, dui nou op nuwe lewe, hoop, vryheid en die samevoeging in die ewigheid van alle mense vir wie dit betekenis inhou. Wedergeboorte en ewige lewe is toeganklik vir almal wat deur Jesus Christus na God toe kom. Ons behoort aan Hom en ons behoort deur Hom.

Paulus se woorde bemoedig ons: "Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is. Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld." (Romeine 12:9-10) Dit kan nie net teorie wees nie.

Om deur die kruis verbind te wees stel ons in staat om ander deur die oë van Christus te sien, Hy het werklik vir ons almal gesterf. Watter groter bewys van liefde is daar? In stede van om teen ander te diskrimineer, behoort ons onsself op 'n opofferende manier vir hulle te gee soos Hy Homself vir ons gegee het. Onthou dat selfs toe Hy in pyn aan die kruis gehang het, het Jesus gesê: "Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” (Lukas 23:34)

Gebed: Vader, daar kan geen groter liefde as dit wees nie. Vergewe my dat ek nie die impak van my sonde verstaan nie en dat ek U so dikwels faal. Wanneer ek stry om ander lief te hê, help my om na die kruis te kyk waar Jesus vir my gely en gesterf het. Gee dat ek sy voorbeeld sal onthou en volg. Ek bid dit in sy Naam.  Amen