Louise Gevers

Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.  Johannnes 1:14

Ek hou daarvan om die voëls in ons tuin van naby dop te hou wanneer hulle die saadjies wat ek vir hulle uitsit, eet. Soms voel ek hartseer wanneer ek na die venster toe gaan om hulle dop te hou, of na buite om hulle bak vol te maak, en hulle vlieg so vinnig weg. Hulle weet tog seker dat ek vir hulle omgee en hulle nie leed sal aandoen nie? En tog hou hulle my versigtig dop vanuit 'n Brasiliaanse peperboom terwyl ek hulle saadjies uitsit en kom net terug wanneer ek weer in die huis is.

My ondervinding verskil nie veel van die van 'n boer wat op 'n koue, witgesneeude wintersnag probeer het om 'n klompie wilde ganse van verkluiming te red nie. Hy was so bekommerd oor hierdie wilde voëls dat hy sy stoor se deure oopgemaak het sodat hulle binne kon skuil, maar hulle het nie besef dit is 'n warm skuiling nie en wou nie invlieg nie. Die gefrustreerde boer is in die koue na buite om hulle te roep, maar dit het hulle net afgeskrik. Hy het selfs brood uitgesit, maar dit het hulle net verder laat wegvlieg. Hy het toe besef dat die enigste manier wat hulle sou verstaan en wat hy hulle kon red, sou wees as hy soos een van hulle kon word.

Is dit nie hoe God oor ons gevoel het nie?

God praat op soveel herkenbare maniere met ons, maar ons moet aan Hom verbind wees en op Hom vertrou om dit te kan erken. As mense het ons 'n dubbele verbintenis geërf – met Adam en met God. Om dié rede leef ons met twee verskillende geaardhede in ons wat in konflik is. Ons vertrou ook dikwels ons menslike instinkte meer as wat ons God vertrou, en God weet dit.

Regdeur die Ou Testament het die Here deur die profete met sy volk gepraat, en hulle prediking het dikwels op dowe ore geval, "maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak." (Hebreërs 1:2) Is dit nou nie wonderlik nie?

Deur die offer van Jesus is God aan die wêreld verbind en bewys Hy ook hoe lief Hy ons het. Die sondeval het ons van Hom geskei, maar toe Jesus sterf, is die voorhangsel van die tempel in twee geskeur, Jesus het die weg na God vir ons almal oopgemaak. Hierdie daad van liefde het ons begrip verander en gee ewige betekenis aan ons lewens. Geen wonder dat ons Paasfees vier nie!

Gebed: Here Jesus, dankie dat U die prag van die hemel verlaat het om my sonde en skande op U te neem en my vry te maak en my weer aan God te verbind. Ek sal nooit 'n groter liefde ken as dit nie. Amen