Louise Gevers

Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’ Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Geen ander gebod is groter as dié twee nie.”  Markus 12:30-31

Hoe het jou skildery gelyk? (lees gister se vers-'n-dag)

Die kans is groot dat daar 'n direkte verband is tussen hoe die skildery lyk en hoe jy reageer op die grootste gebod waarna Jesus in ons teksvers verwys, maar slegs jy sal weet of dit waar is. Dit is die eerste van die Tien Gebooie. Die hoeveelheid vasberadenheid en passievolle toewyding wat by die hou van hierdie gebod betrokke is, kan nie geignoreer word nie. Met jou hele siel, verstand en al jou krag beteken presies dit — met alles — moet jy God die magtige Skepper liefhê. Daar is geen ruimte vir 'n halfhartige reaksie teenoor God of ons naaste nie, met ander woorde die gesindheid van ons hart sal ons skildery affekteer.

'Liefde' is soms baie abstrak, maar God werk wonders in diegene wat in 'n verhouding met Hom wil wees. Konstante kontak met God verander die 'pap hand van Adam' in een wat doelbewus uitreik na God en die gedagte om met Hom in verbinding te tree maak ons opgewonde en ons gesigte straal met blydskap wanneer ons na Hom kyk. Ons skildery verbeter verder as ons, anders Adam se ongeërgde houding, vorentoe beur wanneer ons na Hom uitreik. Om doelgerig te wees, is noodsaaklik.

Dink aan 'n kragprop wat langs die muurprop lê; of 'n geskenk in die hand van 'n vriend wat wag om dit aan jou te oorhandig. Die kragprop sal nie met die kragbron verbind wees voordat iemand dit optel en dit in die muurprop druk nie, en die geskenk behoort nie aan jou voordat jy dit aanvaar het nie; maar wanneer die onderskeie aksies plaasgevind het, is die gevolg onmiddellik. Die krag en die geskenk behoort aan jou.

Dit is dieselfde wanneer ons met God en ons naaste in verbinding tree. Ons moet doelbewus 'n skuif maak. Ons kan nie in onsself gekeer sit en wag op die pad vorentoe nie, selfs uitsien na die pad vorentoe, maar niks doen nie. Om God lief te hê is die sleutel om met God in verbinding te wees en om ons naaste lief te hê is die bewys daarvan. God moet ons alles wees, ons Nommer Een – en dit is te verstane dat Hy geen mededingers sal verdra nie. Wanneer ons aan Hom verbind is, kyk ons met nuwe perspektief na alles en ons liefde vir Hom en ons naaste neem toe.

Johannes sê: "Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is 'n kind van God en ken God." (1 Johannes 4:7) "Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik." (1 Johannes 4:12)

Gebed: Heilige Vader, ek wil U nog meer liefhê as wat tans die geval is. Help my om U en my naaste doelbewus lief te hê, sodat u volmaakte liefde in my kan groei.  Amen