In verbinding met God - 4 April 2018

Louise Gevers

Ek het hulle met sorg en liefde gelei, Ek was vir hulle soos iemand wat die juk oplig as dit sy trekdier skaaf. Ek het na Efraim toe afgebuk en hom gereeld kos gegee.  Hosea 11:4

In Michelangelo se skildery op die plafon van die Sistynse Kapel wat die skepping van Adam uitbeeld, sien ons hoe God in 'n besliste, passievolle manier na Adam uitreik. Sy sterk hand is uitgestrek na Adam se hand, terwyl Adam uitgebeeld word waar hy agteroorlê en effens na God draai en dit lyk asof hy sy hand halfhartig na God uitstrek. Hierdie illustrasie is ikonies en 'n gepaste beeld van die interaksie tussen God en die mens regdeur die Bybel asook in ons wêreld. God reik voortdurend uit om in verbinding te wees met die mens wat in sy eie wêreld verstrengel is.

Hosea skets 'n effens ander prentjie met dieselfde tema. In ons vers vir vandag word God se moederlike teerheid en liefde vir sy kinders uitgebeeld as 'n warm omhelsing en voorsiening van voedsel. Hy het hulle bevry en veilig uit Egipte gelei, gelaai met rykdom. Hy het hulle in die woestyn bewaar, en op 'n sigbare manier voor hulle uitgetrek. Hy het water, manna en kwartels vir hulle voorsien. Hy het hulle van siektes genees. En tog het hulle dit alles vergeet en hulle eie sake in so 'n mate nagejaag dat hulle van dit afgode gemaak het. Maar selfs toe hulle verkeerd teenoor Hom gehandel het, het Hy hulle steeds liefgehad.

God se liefde vir sy rebelse volk is epies. "Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel?" (Hosea 11:8)

En wat van ons?

God het ons ook van slawerny bevry. Hy voorsien ruimhartig vir ons uit sy rykdom. Hy bewaar ons op ons pad deur die lewe. Hy alleen ken die woestyn en is daar om ons die weg te wys. Hy voorsien 'n wye verskeidenheid voedsel om ons te versterk en vir ons om te geniet. Hy voorsien water om ons te onderhou, selfs in tye van droogte. Hy genees ons van siektes …

Gee ons erkenning aan God se genade en sorg wanneer ons moeilike tye beleef as gevolg van pyn en verlies? Gee ons erkenning aan die uitstorting van sy seëninge en belonings in die tye van ons lewens wat gevul is met liefde en lig? Of, soos die Israeliete, verander ons die seëninge in afgode en maak ons lewens so besig dat ons nie tyd het om met Hom in verbinding te tree nie?

As Michelangelo jou, in stede van Adam, met God moes skilder, hoe sal dit lyk?

Gebed: Vader, ek verdien nie u genade nie, en tog, selfs wanneer ek rebelleer, gee U vir my om. Trek my asseblief nog nader aan U.  Amen

Go to top