Louise Gevers

In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef.  Genesis 1:1-2

Daar was totale donkerte oor die oseaan – niks anders nie – slegs God!

Slegs sy oë kon die duisternis binnedring om die vormlose, onbewoonbare aarde gevul deur die diep waters, te sien. Slegs Hy het geweet wat Hy aan die begin van tyd met hierdie chaos wou doen. Stel jou voor watter ongelooflike krag Hy opgeroep het om (Homself) "met 'n kleed van lig te omhul" (Psalms 104:2) en om hierdie rou materiaal met ongelooflike afmetings te vorm en sodoende die wonderlike en asemrowende wêreld waarin ons leef, te skep.

Sy handeling om die hemel en aarde te skep was 'n handeling van liefde want Hy was besig om voor te berei vir die kroon van sy skepping, ons! Hy was doelgerig en liefdevol in sy beplanning, en het seker gemaak dat alles volmaak sou wees. Net soos menslike ouers sedert daardie tyd doen wanneer hulle 'n baba verwag. Hy het die standaarde gestel. Nadat Hy die mens geskep het, "het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed." (Genesis 1:31)

God het elkeen van ons uniek gemaak. Hy het 'n plan vir elkeen van ons en ons potensiaal is onbeperk wanneer ons besef na wie se beeld ons geskep is. Ons het sy kreatiwiteit in ons en ons kan Hom naboots. Hy is inherent tot ons verbind op dieselfde manier wat ons aan ons aardse ouers verbind is. Nie almal is 'n Michelangelo, 'n Walt Disney, 'n Charlize Theron of 'n Steve Jobs nie, maar ons is almal mense wat na die beeld van God geskape is. En net soos Hy, hou ons ook daarvan om ons stempel op ons eie skeppings af te druk, selfs al is dit net bruikbare toestelle wat ons in tye van nood geprakseer het, of die beste dis wat ons aan ons gesinne voorsit.

Maar ons moet met Hom in verbinding wees. Indien ons nie genoeg aandag skenk aan die groter prentjie en aan wie God werklik is nie, mislei ons onsself dikwels deur te dink dat ons wonderlike begaafde mense is en dat ons talente slegs deel van ons normale intelligensie is. Ons raak arrogant en vergeet tot ons eie nadeel die belangrikheid van ons Skepper. Iemand het gesê dat in 'n wêreld wat voortdurend op soek is na nuwe en meer effektiewe maniere om met mekaar in verbinding te wees deur 'n beter slimfoon, of vinniger Wifi-verbinding, gebed steeds die beste draadlose verbinding is om met God te skakel. Het jy dit al ontdek? Die Here sê: "Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie." (Jeremia 33:3)

Om in verbinding te wees, is waaroor dit gaan.

Gebed: Wonderlike Skepper dankie dat U my na u beeld gemaak het en dat U my uitgenooi het om U beter te leer ken. Help my om te besef hoe belangrik dit is om in verbinding met U te wees sodat ek u stem kan hoor en u wonderlike weë kan leer ken. Amen