Wanda Bam

“Job het voortgegaan en gesê: “So seker as God leef, Hy wat my reg van my af weggeneem het, die Almagtige wat my die bitter lyding aangedoen het: so lank as daar lewe in my is, so lank as die asem van God in my is, sal ek niks sê wat verkeerd is nie en sal daar geen onwaarheid uit my mond kom nie.”  Job 27:1-4

Die tamheid van skaars 24 uur gelede se lang vlug na Charles de Guille, wil-wil my laat terugglip in die bed, maar daar is so min tyd en so baie om te sien. Skuins oorkant die hotel is daar ’n soort van woonstelgebou, eintlik is dit al wat ek nog te siene gekry het. In die ingang van die gebou oorkant my kamervenster, sit daar ’n boemelaar wat die ingang na die woonstelgebou, sy woning gemaak het. Laasnag, beslis tot my ergernis, wou die broer net nie moeg raak nie. Veral met die dagga en drank wat hy reeds gister na ons gelig het as heildronk op ons aankoms, was hy op sy beste en wou dit lyk dit asof hy vas glo dat hy Pavarotti se opvolger is.

God gebruik toe juis hierdie insident om met my te praat oor genoegsaamheid, oor dankbaarheid, oor omgee en oor die realiteit van mense wat swaarkry en hulle onvermoë om 'n greep te kry op die lewe. Mense wat dalk moontlik welbekend is en groot aansien geniet het op 'n tyd toe ander die voordeel kon trek uit hulle status. So is daar talle mense, dalk die mens met wie jy vandag, in die winkel, of die bank of by die lisensiekantore te make gekry het, wat dalk soos hierdie man, ook maar platgeslaan is, maar steeds met kop omhoog in die massa rondbeweeg. Wie se swaarkry hopelik nie sigbaar is vir die suksesvolles wat sy of haar pad daagliks kruis nie. Job se swaarkry was sigbaar en vir sy belangrike vriende onverstaanbaar, maar hy het geweet wie hy vir God is tot die einde toe van sy swaarkry.  Sy vriende wou oordeel, beoordeel en uitspraak lewer, maar Job het geweet dat God betrokke is in sy lewe, hoe onverstaanbaar sy swaarkry ookal mag gewees het.  Hoe sal ek weet hoekom hierdie man is waar hy homself nou bevind?  Net daar staan ek en bid: "Here, wat ookal die pyn is wat hierdie man in verdwaal geraak het, mag U vandag aan hom raak, mag hy die verskil tussen die pynstillers van drank en dagga, teenoor die Groot Geneesheer van alle tye, ervaar!"

Gebed: Vader God, maak my sensitief vir die wat swaarkry en leer my om ook u wil te soek in hoe ek betrokke kan raak in hulle lewens. Here, vandag kry ekself bitter swaar.  Sal U my optel en vashou aan U bors, want ek wil naby U wees.  Amen.