Wanda Bam

“Want die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander. Daar sal aardbewings op baie plekke voorkom. Daar sal hongersnode wees. Hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd.” Markus 13:8

Ek sit gereed, met ‘n oop Word dokument voor my, gereed om die eerste paar letters te begin tik toe my man verbystap en grappenderwys sê: “Dis ‘n goeie begin”. Dit het my laat dink. Is dit nie die wonderlikste gevoel as mens daardie splinternuwe kraakvars blaaie van die dagboek oopvou en jy besef dis ‘n nuwe jaar, ‘n nuwe geleentheid, “‘n goeie begin”?

Dit werk net nie altyd met die lewe en sy deurmekaar verloop so nie. Dagboeke word vinniger vol aktiwiteite geprop as wat enigeen, teen dié geweldige pas, kan byhou nie. Ons kla ons is te besig, maar ons skryf self die inskrywings in ons besige dagboeke. Ons kla dat ons verhouding met ons gesinne nie goed is nie, maar ons behoort aan al die bestuursliggame en aktiwiteite by die kerk of skool wat juis tyd met mekaar inboet. Ons is ontevrede oor ons finansiële situasie wat soms buite ons beheer op ‘n baie slegte plek beland, maar tog kan ons eerlik vir mekaar sê dat daardie nuwe kredietkaart nie ‘n goeie begin is as die bankrekening reeds kreun nie. ‘n Nuwe buite-egtelike verhouding gaan nie die huwelik van 20 jaar ‘n goeie begin maak nie. ‘n Nuwe huis gaan nie die geluk bring wat die vorige veel kleiner huis met slegte konflik gebring het nie. ‘n Ekstra graadkursus gaan nie die aansien en respek bring wat jy met die vorige werkspartytjie verloor het nie. ‘n Goeie begin bevat nie leë beloftes wat opgewonde blinkgewaste klein gesiggies wat jou saans na werk by die voordeur begroet oor en oor teleurstel met jou woedebuie en kritiek nie. Dalk is jy ‘n mens sonder enige van die bogenoemde slegte beginne, maar die feit is almal het Goddelike oorbegin iewers nodig.

‘n Goeie begin is nou, vandag in hierdie oomblik. Jy, God en sy Woord is jou enigste goeie begin. Hy het jou lief ten spyte daarvan dat Hy álles van jou weet. Hy het jou nooit gelos nie, al het jy gedink jy is alleen. Hy vra dat jy jou hart leeg voor Hom sal oopvou sodat Hy die eerste letters van vergifnis en hoop nóú daarop kan skryf.

Gebed: Here, hier is ek weer, U ken my. My goeie beginne het nie goed verloop nie, maar Vader, hier is ek, my lewe ‘n leё blaai. Skryf soos U goed dink ek my pad verder moet stap.  Amen