Wanda Bam

As iemand die gawe ontvang het om te preek, moet God deur hom aan die woord kom; as dit is om in die gemeente te dien, moet hy dien met die krag wat God verleen. So moet julle God in alles verheerlik deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort tot in alle ewigheid!  1 Petrus 4:11

Aangesien julle alles in oorvloed het: geloof, die gawe om julle woord te doen, kennis van God, onbeperkte ywer en ons liefde vir julle, wees dan ook in hierdie liefdeswerk oorvloedig. 2 Korintiërs 8:7 

Ons lewe wemel van teenstellings en kontraste. Ons probeer altyd beter wees, nogtans probeer ons om onsself te aanvaar en lief te hê net soos ons is. Ons probeer om die realiteite van die menselike natuur en ervaring volledig te verstaan wetend dat ons ook geestelike wesens is. Ons lei, tóg kan ons bo ons leiding uitstyg. Ons ervaar verlies, tóg is ons vermoë om liefde te ervaar eindeloos. Ons neem lewe as vanselfsprekend al wéét ons dis delikaat. Ons leef in ‘n wêreld gevul met min is meer, met siklusse van skaarsheid en oorvloed, groot en klein. As ons die twee teenoorgesteldes kan insien sal ons ook die onsekerheid wat tussenin lê as waardevol sien. Daardie plek waar daar onsekerheid is oor wat werklik ís en wat volgende moet wees. Dit is die tussenpose tussen twee teenoorgestelde ervarings. Dit is in daardie fraksie van ‘n oomblik waar ek kans kry om stil te bly, my oë toe te maak, perspektief te kry en God toe te laat om die realiteit en aksie wat daarop moet volg, uit te wys. Om te leef in uiterstes of teenoorgesteldes, is om die belangrikheid van balans net weer te snap en te waardeer.

Ek snap dit wanneer ek verstaan dat die lewe nie net draai om die groot oomblikke soos die geboorte van ‘n baba of die uitvinding van ‘n kuur vir ‘n ongeneeslike siekte nie. Soos Jonas Silk wat ‘n teenmiddel vir Polio in die 1950’s ontdek het, en gevra is of hy hierdie teenmiddel gaan patenteer. Indien hy dit sou doen, sou dit hom op daardie stadium een van die rykste mense op aarde gemaak het. Sy antwoord was: “Sunshine is not mine to patent, and neither is this.” Ons wag soms vir die groot oomblikke om werklik die lewe te lééf! Jonas het sonder verering en aansien in die kleinste fasette van lewe die grootste betekenis gevind. In die gewone het hy die uitsonderlike gevind.

Ons word geaffekteer deur wat om ons gebeur, maar wanneer ons op ons slegste is, vind ons die beste in ons. Ons kan tragedies oorkom en ons kan voortbeur om weer voluit te leef. Ons kan in die teenwoordigheid van dood, tòg weer lewe vind. Oefen jou fokus op die oomblikke wat lê tussen alles en niks en vind daarin jou perspektief en riglyn vir jou volgende stap.

Gebed:  Here, vandag, leer my kyk soos U kyk, praat soos U praat, leef soos U wil hê ek moet leef.  Amen.