Wanda Bam

“Dit gaan goed met die mens wat sy hulp van die God van Jakob ontvang, die mens wie se hoop gevestig is op die Here, sy God.” Psalm 146:5

“Wie ag gee op die woorde van die Here, sal voorspoed geniet; wie op die Here vertrou, met hom gaan dit goed.” Spreuke 16:20

Almal wil gelukkig wees. Menige vind dit nie in ‘n leeftyd nie omdat hulle dit waarskynlik in al die verkeerde plekke gaan bly soek het.

Geluk is eintlik ‘n natuurlike staat waarin ons gebore word en moet kan leef. Dit is net dat ons geleer of geindoktrineer is om meer gemaklik te voel met ongelukkigheid. Op ‘n vreemde manier is ons nie gewoond aan geluk nie; dit voel inteendeel ongemaklik en onverdiend. Dit is waarskynlik hoekom ons onsself dikwels vang dat ons soms die slegste van mense of ‘n situasie dink en die ergste verwag. Ons moet werk daaraan om gelukkig te voel en onsself daartoe verbind om gelukkig te wees. Geluk is ons doel op aarde en dit is nie selfgesentreerd of onsensitief vir die realiteite van die lewe nie. Ons voel skuldig om te fokus op geluk as daar soveel swaarkry om ons is. Wel, die realiteit is, jy is geskep om die skepping met al sy wonderwerke te beleef om sodoende die vreugde wat jy daaruit put met ander te deel en jou nie met ander te vergelyk nie. Dit is so nutteloos om saam met die res te kerm en te kla oor wat verkeerd is en hoe ongelukkig jy is. Die waarheid is dat mense wat gelukkig is, die minste selfgesentreerd en selfgerig is. Ware geluk is nie die resultaat van ‘n gebeurtenis of afhanklik van omstandighede nie. Jy, en nie wat om jou aangaan nie, bepaal jou geluk.

Volhoubare geluk is in die steenwerk van die ewigheid ingemessel wanneer dit op ‘n verhouding met God gebou is. Geluk is op ‘n menslike vlak ook prakties uitvoerbaar deur iets weg te gee, of iets goed vir iemand anders te doen, om drome te verwesenlik waarvoor jy hard gewerk het, deur bejaardes te besoek en uit hulle lewenswysheid te put, deur aandagtig na ‘n babatjie te kyk en elke nuanse van onskuld in te drink, deur gereeld te lag want dít is die smeerstof vir ‘n gelukkige psige. Leef elke dag asof dit jou laaste dag op aarde sal wees. Omgord elkeen van hierdie gedagtes met lof en aanbidding en ervaar wat dit is om werklik gelukkig te wees.

Gebed:  Here, leer my om in die oomblik, hier waar U is, gelukkig te wees. Leer my om die skoonheid van onvolmaaktheid raak te sien en te jubel oor die wonderwerke van elke oomblik. Amen