Wanda Bam

“By U, Here, skuil ek. Laat my tog nooit teleurgestel staan nie! Bevry my, want U is getrou.  Luister na my, red my tog gou. Wees vir my 'n rots om na toe te vlug, 'n bergvesting om my te red. Ja, U is my rots en my bergvesting, ter wille van u Naam sal U my voorgaan en my lei.”  Psalm 31:2-3

Die lewe is ‘n skool waar verlies ‘n groot deel van die kurrikulum uitmaak terwyl verlies ook ‘n ervaring is wat onlosmaaklik deel is van ons lewenspad. Verlies leer ons partykeer meer van die mense wat deel vorm van hierdie verlies. Ons ervaar soms liefde en die omgee van vreemdes.  Verlies bring ‘n leegheid in ons hart wat liefde in mense kan losmaak wat dit wil vul en vir die wat die verlies nie wil erken nie of daarvan dissosieer, weer liefde laat terughou. Dis die woorde:  “ek sal nooit weer liefkry of vertrou nie” wat die leegheid dolleeg hou.

Verlies hou verskeie dimensies in. Jou kwalifikasies en die deure wat dit vir jou oopmaak is onderworpe aan werksverlies of teleurstelling; ons kinders bring die moontlikheid van verlies deur verwerping nadat hulle uitbeweeg in die volwasse wêreld in en trou, of oorsee verhuis of bloot kleinkinders weerhou in die geval van konflik, of wanneer egskeiding almal stukkend breek. Dood is nie die enigste vorm van verlies nie. Egskeiding, gebroke verhoudinge of fisiese trauma is ook die verlies aan die droom van ‘n gelukkige gesin, gesonde lewe, vriende, kinders en kleinkinders. Dit is ‘n verlies wat egter, ongeag wie dit veroorsaak het, nogsteeds gerespekteer en dienooreenkomstig hanteer moet word.

Verlies kan ons saambind en meer van mekaar leer. Ons ontdek die onbekende edelgesteentes in die mense om ons. Dalk huil jy vandag oor die verlies aan iemand wat jou nie beskerm en liefgehad het soos hulle moes nie. Dalk jou ma of pa, jou kind of iemand wat jy vertrou het, wat jou menswees gekneus het, terwyl hulle jou moes liefhê en respekteer. Soms wil jy jou beskerm teen verlies deur jouself te onttrek, te ontken, deur ánder se redding of vertroosting jou fokus te maak sodat jy nie jou eie pyn hoef te ervaar nie. In hierdie proses leer ons niks oor die kosbare les van verlies wat ons júís meer mens maak nie.

Gebed:  Vader, ek maak myself vandag beskikbaar vir die les wat verlies vir my moet leer. Ek huil, rou, neem afskeid, vergewe en erken ook die positiewe les van verlies voordat die vreugde, pyn geword het. Ek neem u hand, Geneesheer van alle tye en stap nou hand in hand verder die pad van genesing met U wat vir my wonde gesterf het en U wat alleen genesing kan bring.  Amen