Wanda Bam

In daardie tyd het die dissipels by Jesus gekom met die vraag: “Wie is die belangrikste in die koninkryk van die hemel?” Hy het 'n kindjie nader geroep en hom tussen hulle laat staan en gesê: “Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie. Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel. En wie so 'n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My.  Markus 9:33-37; Lukas 9:46-48

Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, van My afvallig maak, vir hom is dit beter as hy met 'n groot meulsteen aan sy nek in die diep see verdrink. Markus 9:42-48; Lukas 17:1-2

Kindwees is ‘n wonderlike fase in ‘n mens se lewe. Dalk is dit vir jou moeilik om met hierdie stelling saam te stem en is daar vir jou geen rede om met vreugde terug te dink aan daardie jare nie. Vandag wil ek egter vra of jy die dogtertjie of seuntjie kan onthou wat teruggekyk het na jou in die spieël toe jy die eerste keer besef het, “Dis ek”. In die skrifgedeelte in Markus 9, kry ek die indruk dat Jesus eintlik vir hulle wou sê: "Bêre die spieël, want die mens wat jy in die spieël sien, het te groot geword, te gesofistikeerd of geleerd geword om My eenvoudige liefde en evangelie te verstaan, te bewus van wat sosiaal aanvaarbaar is." Om net te wees, voel soos die vakansietye wanneer mens nie wil hare kam of skeer nie. Dan speel en lag ons, jaag die kinders buite op die strand rond, skop die bal en lag hardop totdat ons gesig so vertrek van die plooie en ons buitendien nie omgee oor hoe ons sou lyk as ons daar en dan in die spieël sou kyk nie. Wat het geword van die seuntjie en die dogtertjie wat met verwondering hulself vir die eerste keer in die spieël ontdek het?

Soms lyk ons so bedruk dat dit lyk asof die meulsteen al lankal om die nek gehang is! Ek wil jou nooi, tel die spieëltjie in jou handsak op of kyk in die truspieëltjie van die motor, of in die kamer, en sê vir jouself, ons sal weer kyk soos ‘n kind, glo soos ‘n kind en met die oë van goedheid en onskuld, lag soos ‘n kind. Dit is wanneer ons so hard na beheer en mag soek, dat ons grootmense word, baie keer groter as God se plan vir ons lewe. Maar, dis wanneer ek na Jesus kyk soos wat ‘n kind na Hom sou kyk, met onskuld en kinderlike geloof, dat die lewe weer mooi word. Dan vind ek my vreugde weer daar, by Hom.

Gebed:  Liewe Here, ek is so jammer dat ek soms regtig glo ek weet beter as U. So asof ek U met raad kan bedien oor wat ek nodig het. Help my om net weer my pad terug na kinderlike geloof te vind. In U sal ek my vreugde vind en leef uit die krag wat dit bring. Amen