Wanda Bam

Die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God.  Hebreërs 12:2

Die Kaapstad Fietswedren is pas verby en die verhale van hartseer en vreugde begin stuk-stuk in die media gestalte kry. Die storie van die pa en dogter van Namibië het my aandag onmiddellik getrek. Wat 'n ongelooflike inspirasie!

Hermann (60) en Maike Volkmann (31) het van Namibië na die Kaap gereis om aan die wedren deel te neem. Die twee het nog nooit so iets saam aangepak nie, maar dit was nog altyd 'n groot droom vir Maike!

Maike het Down se sindroom, maar is nog altyd vasbeslote om enige uitdagings wat die lewe bied te oorkom. Haar pa het haar droom verstaan, hy het geweet hoe graag sy hierdie baie uitdagende wedren wou doen en het besluit om haar hierin nie net te ondersteun nie, maar dit ook saam met haar te doen. Hermann wat reeds self 'n driedubelle hartomleiding ondergaan het, het die laaste twee jaar begin voorberei vir die wedren. Saam het pa en dogter op hulle tandemfiets in die Namibiese woestyn gery en gesond gelewe om die rit te vergemaklik. Hierdie wedren was 'n groot toets vir hulle uithouvermoë. Die pa- en dogterspan het toe uiteindelik die wedren suksesvol voltooi.

Wanneer ons in beweging kom en doen wat ons so lankal uitstel omdat mense gesê het dit is onmoontlik, omdat ons glo ons nie kan nie, moet ons weet dat as ons dit wel uiteindelik sou deurvoer, daar risiko’s is. Die risiko om te verloor, om seer te kry, om teleurgestel te word of om halfpad op te gee. Risiko’s is dus die gegewe. Die opstaan na die val en hoe ek opstaan na die val is belangrik, maar daar is 'n verdere uitdaging. Wie neem ek saam wanneer ek besluit om die wedloop aan te durf en wie neem ek saam wanneer ek besluit om na die val weer op te staan en aan te gaan. Ons kry dit net reg as ons self genoeg glo in wat ons doen, wanneer ons self weet waarheen ons op pad is en wanneer ons ook ander inspireer om te fokus op Jesus, die Begin en Voleinder van ons geloof, wat die wedloop reeds voltooi het en ons aanmoedig en lei op hierdie pad vol risiko’s.

Gebed:  Here, maak my dapper om te waag in geloof. Maak my fiks om die wedloop te voltooi en gee dat ek dit so sal hardloop dat ek saam met my spanmaats by die wenstreep van die ewigheid sal kan uitroep, “Ons het dit gemaak!”  Amen