Wanda Bam

“Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.”  Genesis 1:28

Ek lees in die media van ‘n mens en ‘n dier wat geliefd en onmisbaar was in die lewe van sy vriende. Oor albei is daar ‘n diep verslaentheid, logiese vrae met talle onlogiese antwoorde. Beide het in dieselfde week wreed gesterf aan die hand van mense, misdadigers, kortweg haters van lewe. Die een koerant berig dat ‘n afgetrede professor, ‘n gerespekteerde akademikus, voor sy familie en vriende, met ‘n mes in sy eie huis aangeval is en toe gesterf het.  Dis ontsettend hartseer. Die ander berig oor Marco, die driejarige Australiese beeshond wat vermis geraak het en vir wie daar ‘n beloning van R25 000 en later R50 000 uitgeloof is. Hy is drie dae later dood aangetref met ‘n draad om sy nek. Die emosies op sosiale media het behoorlik losgebars. Reaksies het gewissel van woede tot trooswoorde. Hoe meer daar gepraat word, hoe kwater word sommiges en belowe om, sou hulle met die skuldiges kon afreken, hulle dit sus en so sal hanteer. Niks hiervan getuig van liefhebbers van die lewe nie. Dit word later ‘n kookpot van woede en kreatiewe wreedheid.

Skielik maak iemand die opmerking wat die hele gesprek tot stilstand dwing.  “Ouens, dit is nie wat die Here van ons verwag nie.”

Dan word almal stil en word die saak ‘n stil inwaardse redenasie met self. In ons gesprekke was daar min van God te sien. Leeggetap van verslaentheid en moeg van woede het ons die onderwerp probeer verander.

Dit sou waarskynlik nie gepas wees om Marco en die afgetrede professor wat vermoor is met mekaar te vergelyk nie, maar dit gaan ten diepste oor lewe. Oor respek. Oor ‘n konneksie met die Gewer van lewe wat die dier geskep het, maar ook in die mens die potensiaal om oor hierdie skepping te heers en dit te koester. Kom ons praat die taal van lewe, kom ons vier die mooi van lewe, kom ons staan op vir lewe, maar altyd met ‘n fokus na binne en kry by God die antwoorde en perspektief wanneer dood aan ons deur wil kom klop.

Gebed:  Here, my mond bly die taal van dood praat wanneer ek toekyk hoe mense swaarkry en verniel word, hoe bejaardes afgeskeep en vergeet word en hoe onskuldiges sterf en diere mishandel word. Leer my Here om ten spyte hiervan die taal van lewe steeds te bly praat, ongeag.  Amen