Wanda Bam

“Jesus antwoord hom: “Dit is soos u sê. Daarby sê Ek vir julle: “Van nou af sal julle die Seun van die mens sien waar Hy aan die regterhand sit van Hom wat magtig is, en julle sal Hom sien kom op die wolke van die hemel.”  Matteus 26:64

“Die dissipels het ook sy heerlikheid aanskou in die wolk op die Berg van Verheerliking. “...oordek ‘n helderligte wolk hulle meteens en daar sê ‘n stem uit die wolk: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. Luister na Hom.” Matteus 17:5

Op die 8ste Maart 2018 het een van die raarste wolke nóg in Nevada, VSA, verskyn. Dit is genoem die “Horseshoe” vir baie logiese-sigbare redes. Dit was in die perfekte vorm van ‘n perdeskoen. Dit het my so laat dink aan die teks wat verwys na Jesus wat op ‘n wit perd op die wolke sal verskyn, waar dit ook uitgebeeld word in die Kinderbybelprentjies. 

So was daar ook al talle mense wat engele in die wolke gesien het. Ook die gesig van “Jesus” of iemand anders. Daar word ook verwys na ‘n Ridder wat eendag op die wolke gaan verskyn, waar elke oog Hom sal sien. Die Bybel praat ook van ‘n vuurkolom en ‘n wolkkolom wat vir die Israeliete die rigting moes aandui en die versekering sou gee dat God by hulle is. Daar was wolke met ‘n reënboog in Noag se tyd, wat ‘n belofte van beskerming sou inhou en aan Agab was daar ‘n waarskuwing, al was dit slegs ‘n klein wolkie as bewys vir die voorspelling van swaar reën.

Dikwels verwys mense wat ‘n geliefde verloor het na wolke van wanhoop en twyfel in God se vermoë om te genees of te beskerm. Diegene wat liefde soek of verwerping ervaar, praat van die wolk van eensaamheid wat lyk of dit nooit weggaan nie. Ander wat bekommerd is oor ‘n finansiële krisis, praat van hulle wolk van bekommernis en onsekerheid. Ongeag wat hierdie wolk in jou lewe veroorsaak het, weet net jy sal God in elke wolk vind as jy nie aanhou soek na die son nie. God is aan die werk in jou wolk!

Wanneer ek in ‘n vliegtuig tussen die wolke beweeg of op die grasperk lê en die wolke instaar, is God ook daar in die kunstige samestelling van die wolke. Wanneer ek na die donker wolke staar, sien ek ook in die weerligstrale die belofte van genadereën uit die krag en gedonder van God se teenwoordigheid waarin Hy sy almag vertoon. Elke donker wolk mag dalk nie ‘n silwer randjie hê nie, maar ‘n skaduwee op jou lewenspad van God se teenwoordigheid te midde van jou teleurstelling en seer. So, staan stil, kyk op en sien die beskerming en voorsiening in jou wolk!

Gebed:  Vader, vandag is ek verslae, alleen en voel dit asof die lewenstorms net te veel wil raak. Maar, ek vertrou U nogtans vir groei na die reën en ook vir stilte na my storm. Amen.