Wanda Bam

Die Here het Sy volk die land in besit laat neem, en hom laat eet van die opbrengs van die lande, hom heuning uit klipskeure laat geniet, olie uit harde klip.” Deuteronomium 32:13 

 “Namate die bevel bekend geword het, het die Israeliete die eerste opbrengste aan koring, wyn, olie, heuning en alles wat die land opgelewer het, ingebring, en ook die tiendes van alles, in groot hoeveelhede. 2 Kronieke 31:5

Die World Economic Forum plaas ‘n artikel waarin Nederland bestempel is as die wêreld se tweede grootste voedselvoorsiener. ‘n Land wat ‘n dertigste van die grootte van Suid-Afrika beslaan met ‘n BBP meer as twee keer so hoog as díé van Suid-Afrika en met ‘n populasie van nagenoeg 17 miljoen mense. Ek hoor iemand se kommentaar hierop: “Ons moet mooi dink en baie bid voor ons net besluit om grond te onteien ter wille van die regstelling van historiese besluite, veral as voedselsekerheid en menselewens van die regte besluite afhang.”

Dis is hierdie gedagtes wat mens laat wonder of ons sin vir geregtigheid so hard skree dat ons meer as dikwels die sagte influistering van wysheid en waarheid nie kan hoor nie. Daar was in die tyd wat Jesus op die aarde gewandel het, meer onreg as wat in een Bybel vervat sou kon word.  Die enigste fokus in al Sy bewegings en besluite was egter om die wil van die Vader te doen ten alle koste en later, ook ten koste van sy eie lewe.

Hierdie laat mens wonder oor prioriteite. Verstaan ons altyd wat die implikasie is van ons eie slimmigheid oor regverdigheid en onregverdigheid?

Die gevolge van die besluite wat ons dikwels neem sal nog in die eeue hierna eggo. Daarom, vir hierdie rede, is die dieper dink en bid oor besluite, nie onderhandelbaar nie.

Vir elke gebalde vuis se gehammer teen die muur is daar rimpelings in die tyd wat kom. Elke gil van woede sal in die tyd wat kom meer woede bring. Elke bitter woord sal in die toekoms wortel skied en ‘n volk met soveel potensiaal en roeping, se drome vergiftig.

Ons het vandag ‘n keuse. Wat is ons eerste prioriteit? Om reg te wees ten koste van alles? Om gehoor te word ten koste van ander? Om regspraak te lewer en die vryheid van menswees slegs vir myself toe te eien? Om my eie versorging te soek terwyl die een hier langs my sterf as gevolg van verkeerde besluite oor grond, oor land, oor burgerskap, op ‘n aarde wat slegs ‘n tentwoning is?

Gebed: Here, help ons om perspektief te behou. Gee ons die wysheid om ons land Suid-Afrika so te bestuur dat sy die vrug van haar toekoms nooit sal verbeur nie. Mag U ons lei Vader na die land van melk en heuning soos wat U lank voor tyd reeds vir ons voorberei het. Amen