Wanda Bam

Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God. Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop.”  Romeine 5:2-4

Ons praat 'n taal in Suid Afrika, ‘n nuwe dialek. ‘n Taal wat ons in sekere opsigte vlot bemeester het, die taal van wanhoop.

Talle opvoeders praat ook hierdie taal. Dit demp dikwels die entoesiasme en visie van diegene wat hulle opvoed omdat daar vasgehaak word by die skade van negatiewe ervarings uit die verlede. Ongeag dit wat agter lê, is dit tyd dat ons as volwassenes besef dat daar 'n paar dinge is wat ons nie namens die jonger geslag kan doen nie. Ons kan nie vir ons kinders pyn nie, ons kan nie vir ons kinders lewe kies nie, ons kan nie vir ons kinders glo nie en ons kan nie vir ons kinders leef nie. Ons kan slegs vir ons kinders voorleef wat ons glo is reg!

Dit is nie net dat ons opstaan wat verandering bring nie. Dit is hoe ons vorentoe beur, aanhou beweeg en standvastig bly glo.

Hoop is nie 'n vak wat ons as 'n kurrikulum leer nie, dit is 'n leefstyl. Dit is 'n lewensperspektief wat jy meestal vind in die grootste teleurstellings. Hoop gee jou nie 'n graad nie en laat nie dinge vir jou of namens jou realiseer nie. Dit lê in jou manier van kyk en jou vermoë om jou teleurstellings te omskep in geleenthede vir groei.

Ek het talle mense na ‘n tragiese dood of verlies as gevolg van misdaad in Suid-Afrika al hoor sê dat hulle worstel met 'n onvermoë om te vertrou en dat hulle diep teleurgesteld is in die goedheid van mense en gesien het hoe hulle dikwels maar net voortsleep met die lewe, sonder hoop.

Die groter hartseer is dat jy jou lewensroeping abdikeer en dat jy jou posisie in die gemeenskap waarvoor jy aangestel is om verandering te bring, nie inneem nie. Dat jy nie opdaag as mentor vir die generasie na jou, deurdat jou bitterheid húlle roeping as die leiers van ons land, versaak het. Dít terwyl die Allerhoogste jou juis opgerig het vir 'n tyd soos nou! Jou teleurstelling steel nie net jou roeping nie, maar ook jou nalatenskap!

Die keuses wat ek maak oor hoe om met hierdie gebrokenheid te leef, is wat my iemand maak met impak. Kies ek woede en bitterheid, leef ek met 'n dooie siel. Kies ek om aan te beweeg, leef ek opgewonde oor 'n onbekende toekoms waar ek tree vir tree by die kern van hoekom ek hier is, uitkom.

Gebed:  Here, leer my om weer te glo, te hoop en lief te hê soos U.