Wanda Bam

En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus. Aan ons God en Vader behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.  Filippense 4:19-20

Swaarkry is nie ‘n verleentheid nie. Dit skep vandag vir jou die ruimte om innoverend te wees. Om God te vertrou, maar ook te kies hoe jy hieroor gaan dink en wie jy hiervoor gaan blameer. Dalk het julle geld belê by iemand wat daarmee weggeloop het. Dalk het jy geld uitgeleen en het die beloftes van terugbetaling leeg gebly. Moontlik het jy alles verloor na ‘n egskeiding. Nou sit jy met meer skuld as dit waarvoor jy in ‘n maand vergoed word vir jou ure se afsloof in ‘n kantoor. Die verlies van geld lei dikwels tot die verlies aan sekuriteit en die sinvolheid van bestaan. Finansiële sekuriteit is op elkeen se lippe, wie se finansies, nes Suid Afrika s’n, amptelike rommelstatus bereik het.

Jy kan jou intense swaarkry jare onthou. Die tyd toe jy God moes vertrou vir brandstof om werk toe te ry. Dalk onthou jy hoe julle bottels moes gaan inruil vir broodgeld en darem toffies vir elkeen van julle drie kinders kon koop. Dalk moes jy ook eens op ‘n tyd vir ‘n brood- en suiker- geldjie, jou Pappa se baadjiesakke deursoek. Daar was altyd êrens ‘n kleingeldjie. Elke keer het God ‘n rand of twee daarin laat val. Daar is eeue se swaarkry in verhale vasgevang dat, wanneer dit vertel word, óf woede en seer wakker maak, óf hoop gee en vrede bring omdat die verhaal ook getuig van ‘n deernis, begrip, respek vir die verlede en ‘n dieper sin van afhanklikheid van God as die Voorsiener.  

Wat leer jy vandag vir jou kinders oor swaarkry? Is dit ‘n nadertrek herinnering of gedagte, of is dit ‘n uitmekaartrek en neerdrukkende gedagte? Jy kan vandag kies hoe jy oor swaarkry dink.  Dit is jou geleentheid om vir jou kinders te leer hoe om God te vertrou. Swaarkry is vir elkeen iets anders. Kom ons raak stil en besef net weer vir oulaas dat voorsiening en deurbrake lyk dikwels net anders as dit waarvoor ons God vertrou het. Hoe en wanneer God “hoor” en “doen” is wat Hom, God maak en ons,”mens”. Hierdie is die veiligste plek en die skoonheid van swaarkry.

Gebed: “Here, ek weet nie meer hoe en waarvoor om te bid nie. Ek sit vandag sprakeloos voor U. Praat met my soos U wil en leer my soos U wil sodat ek kan doen soos U wil. U Woord is die lig op my nou, donker pad.  Amen