Wanda Bam

"Die wat alles gesien het, het vir hulle vertel wat met die besetene gebeur het, en ook van die varke Hulle het toe by Jesus daarop aangedring om uit die gebied uit weg te gaan.”

Markus 5:16-17

"Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk." 2 Korintiërs 12:10

Ek lees in die Bybel dat gewone mense en ook die skrifgeleerdes dikwels, wanneer Jesus die ongemak van sonde uitgewys het, vreemd daarop gereageer het. Selfs wonderwerke het vir hulle ongemak veroorsaak. Die wette van die land asook die geestelike wette van die Joodse Raad, was vir hulle die veilige rigtingwysers op die paaie van Jesus se vreemde leringe oor verlossing en bevryding.

Die “Wet” was vir hulle die verstaan van wat God van die mens verwag. Hoe meer wonderwerke hulle van te hore gekom het of leringe wat juis nie die wet as enigste "stem van God" vir die mens aandui nie, hoe meer het hulle 'n vreemde ongemak beleef.

Soos toe Jesus demone uitgedryf het in Markus 5 by die besetene van Gadara, en die positiewe gevolge daarvan was dat hulle Hom geskok gevra het om die dorp te verlaat. So asof hulle iets anders verwag het. Mens kry amper die gevoel dat daar 'n groter gemak was met die status quo, al sou dit tot die nadeel en vernietiging lei van mense vir wie God onteenseglik op gelyke basis liefhet. So was daar talle ander voorbeelde van insidente wat ongemak veroorsaak het vir die wat Jesus nie wou aanvaar nie. Dit was te maklik ...Volg my! ... verbeel jou! DIe ongemak met sy vermoë om die lewens van sondaars om te draai, genesings te doen, die dooies op te wek en Homself die "Weg, die Waarheid en die Lewe" te noem, was genoeg om Hom uiteindelik aan 'n kruis vas te laat spyker.

Vandag is ons steeds so behep met beleide, reëls, wette en grense, dat ons ongemaklik raak wanneer iemand dit uitdaag of bevraagteken.

Om die ongemak van dit wat nie reg is nie uit te daag, al is dit reg vir al die ander mense, verg dapperheid te midde van die sterk moontlikheid dat ek deur dieselfde mense vervolg kan word. Om egter met die kompromie saam te leef van onreg en die gemaklikheid van sonde, verteer jou siel en vreet jou hart van die binnekant af op.

Kies nou vir die gemak van ongeregtigheid of die ongemak van waarheid en geregtigheid.

Gebed: Vader, meer as ooit het ons u genade nodig. Meer as ooit verstaan ons dat die oordeel ons nie toekom nie maar dat U wel van ons rentmeesterskap van die waarheid sal eis. Gee dat die gemak van sonde in ons lewens, ons voor U sal laat neerbuig sodat die ongemak van wedergeboorte en skulderkentenis, duidelik sal word. Amen