Wanda Bam

“Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is.”  Fillipense 2:6-9

Dit is daardie tyd van die jaar. Die tyd van duur ontwerpersuitrustings, die dik rooi tapyt lê uitgerol, die groot teater is gereed, beligting en klank is getoets, dansers is afgerond en die program tot op die sekonde uitgemeet. Dan flits die kameras. Dit is die Oscars 2018. Soveel mense, soveel menings oor alles wat was, is en gaan wees. Daar is nie een Oscar toekenningsaand wat nie opslae maak vir die een of ander vreemde ding wat iemand aanvang nie. Dit is gewoonlik ‘n kontroversiële gebeurlikheid. So het ‘n ou bekende aktrise gesorg vir ‘n opskudding in die sestiger jare tydens die Oscars toekenningsaand. Elizabeth Taylor het in 1960 die toekenning as beste aktrise in 'Butterfield 8' ontvang. Dit was die eerste keer in die geskiedenis van die Oscars dat ‘n aktrise so 'n uitlating gemaak het, naamlik dat sy, “nog nooit die fliek gesien het en dat sy geen begeerte het om die fliek te gaan kyk nie”. Sy het dit beskryf as “'n stuk obseniteit” en bygevoeg dat sy bloot net haar kontrak met MGM, haar rolprentvervaardiger wou klaarmaak.

Dit is ‘n kwade dag as enige mens by ‘n plek in sy of haar loopbaan gekom het waar dit wat jy bereik het, so algemeen, alledaags of vanselfsprekend geraak het, dat daar geen motivering vir prestasie, groei of groter aspirasies meer oorbly nie. Wanneer werk ‘n blote “moet” geword het en prestasie bloot “‘n gegewe”. Daar is geen noodsaaklikheid vir God se ingrype of ‘n afhanklikheid van sy seën of beloning nie. ‘n Limiet is geplaas op die hoeveelheid miljoene wat verdien moet word teen ‘n gegewe tyd en die aantal grade is vasgestel wat verwerf moet word. Die aftrede is met polisse en beleggings beseël en die testament veilig in ‘n kluis toegesluit. So, wat nou?

Wanneer ek en jy leef met ‘n toekomsverwagting wat anderkant die dood strek, word die geleenthede om God te eer, te groei en betekenis en waarde toe te voeg tot ons hierwees, die wonderlikste bron van motivering. Dit is die plek waar dit nie meer oor myself en my toekennings gaan nie, maar oor God en sy mense. Dit is wanneer ‘n Oscar in jou hart ‘n siel word wat vir die Koninkryk gewen is. Aan God alleen kom toe die Hoogste Toekenning!

Gebed:  Here, leer my om so te leef dat ek altyd meer van U en minder van myself, my fokus op die lewe sal maak. Amen