Wanda Bam

Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir 'n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie. Sorg dat niemand van die genade van God afvallig word nie. Sorg dat daar nie verbittering soos 'n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie.

Hebreërs 12:14-15

Nadat die onverklaarbare siekte, listeriose by meer as 940 mense gedianoseer is en reeds 180 lewens geëis het is die aankondiging uiteindelik gemaak – dit is ‘n bakterie wat skuil in produkte wat dalk ook in my en jou yskas gestoor word. Ek kan net dink hoeveel kettingboodskappe daar reeds op sosiale media uitgestuur en aangestuur is. Elkeen met sy ekstra stertjie van sensasie bygevoeg. Massa histerie. Yskaste word leeggemaak, listeriose bakteriele spore of te nie. Kettingwinkels se rakke word ontruim en die media is in harwar met duisende vrae wat gevra word. Dit raak polities wanneer ook politici aangevat word oor hulle gebrekkige kontrole.

Ek wonder maar net…

Gaan ons so om met die kwadegevoelens in ons families? Met die dislojaliteit van werknemers?  Met die verdeeldheid in die kerk? Met die vergryp aan afhanklikheidsmiddels in watter vorm ook al? Vra ons die regte en belangrike vrae en doen ons navorsing, soek ons die waarheid en lees ons die Bybel genoegsaam om met voldoende insig ‘n mening te waag oor die gebrokenheid van ons wêreld?

Gaan soek ons vir die wortel van die kwaad in ons eie hart of het ons so besig geraak met die soek van splinters in iemand anders se oog, dat ek vaskyk teen die balk in my eie? Ek wonder of ons bereid is om met dieselfde sorgvuldigheid as waarmee die soektog na die oorsaak van hierdie besmette voedsel geloods is, om te gaan. Het ons al die aarde van hoek tot kant deursoek vir mense wat steeds nalatig omgaan met die lewe en steeds hulle rug draai op God?  Mense wat leef sonder vrees vir sonde asof lewe slegs aan hulle behoort? Mag ons verstaan dat ons mense met seer, verwaarlosing, besmetting, verstote, onaansienlik, arm en ‘n las vir die ekonomie, verslaaf en uitgeworpe, nie net van ‘n winkelrak af kan verwyder nie, maar dat ons moet ingryp en met aksieplanne koersaanpassings moet maak en dat ons in waarheid en onverskrokkenheid leiding moet neem. Nie net kettingboodskappies uitstuur nie, maar daadwerklik betrokke moet raak met dit wat God aan ons toevertrou het, met wysheid en in werklike afhanklikheid van Hom.

Gebed: Here, al wat ek van U vra vandag, is wysheid en ‘n diep afhanklikheidsbesef van u leiding. Leer my om twee keer te help voor ek een keer kritiseer. Ek wil ‘n verskil maak, leer my hoe, Vader. Amen