Wanda Bam

“Dit is Wysheid self wat roep, dit is Insig wat haar stem laat hoor.” Spreuke 8:1

“Wie my vind, vind die lewe self en geniet die guns van die Here.” Spreuke 8:35

Ek moes net weer gaan kyk wat die betekenis van outentiek alles insluit. Hierdie is maar net ‘n paar van hulle; opreg of eg, oorspronklik, realisties, waar, deeglik geposisioneer, gebalanseerd en belyn met die waarheid, ingestel en in kontak met “self”.

Dit is maklik om outentieke “self” te verwar met outentiek leef. Dit beteken gewoon dat ek die taal van outentiekheid ken, maar dit nie praat nie. Ek kan derhalwe met groot vernuf, wegkom met ‘n pretensieuse leefstyl, omdat ek die skyn van outentiekheid so goed bemeester het.

As mens meer outentiek leef en jou eerlike self omarm, is daar gewoon nie meer ‘n kompetisie gees wat jou eintlik beroof van ‘n gesonde gebalanseerde lewe nie. Om jou outentieke self te leef beteken om vry te wees van ‘n voortdurende kompetisie-gees.

Wees jouself en hou op om iemand anders te probeer wees. Dit lê nie in hoe jy aantrek of watter soort kuns of musiek jy van hou wat jou uniek maak nie. Dan word andersheid die enigste ding wat jou definieer. “Authentic self is the soul made visible” - Sarah Bon Breathnach.  Eerlikheid is om jou bloot te stel, waarde toe te voeg tot ‘n pretensieuse samelewing en daarmee ook ander toe te laat om vreesloos hulleself te wees. Outentiekheid vereis kwesbaarheid, deursigtigheid en integriteit. Wees jy dus vreesloos outentiek. Jy word bevry van vrees en kom in noue kontak met die realiteit van liefde. Hê volledig lief en wees jou eerlike self. Fokus daarop om in waarheid te leef. Asem dit in, en straal dit uit.

Vind die dapperheid en moed om outentiek te wees – nie almal sal van jou hou nie, maar niemand kan tog van jou hou as jy hulle nie die kans gee om jou ware self te leer ken nie.

Visualiseer die betekenis van outentiekheid met twee sirkels. Dit is wanneer die sirkel van "wie jy is" en die sirkel van "wat jy doen" netjies oor mekaar skuif dat jy outentieke gedrag in jouself vestig. Die een kan nie sonder die ander nie en die een getuig oor die integriteit van die ander.

Gebed:  Here deurgrond my hart, as daar valsheid in my is, sal U my deur u Gees lei tot selfinsig. Maak my nuut sodat ek myself sonder vrees sal uitleef en myself sal sien, soos U my sien. Amen