Wanda Bam

“Gelukkig is die man [vrou] wat nie aan My begin twyfel nie.” Lukas 7:23

“Maar God tree met wysheid op, en sy werke bewys dit.” Lukas 7:35

Geduld is seker die moeilikste lewensles om te leer. Hoe baie hoor ek nie: “Ag ek is glad nie ‘n ongeduldige mens nie, ek vat die lewe soos dit kom”. Die vraag is egter, hoe dink ek en hoe reageer ek as ek onderwerp word aan moeilike, veranderende omstandighede hetsy siekte, werksverlies, rampspoedige gebeure soos inbrake, ongelukke en vele ander? Hierdie realiteite bring potensieel veranderinge mee van my lewensperspektief en boonop, dikwels onwetend.

Eers wanneer ongeduld die mense, wat direk saam met my leef of werk affekteer, besef ek dat ek ‘n “ongeduldige” mens geword het en word ek gekonfronteer met my stormagtige binnekant.  Ongeduld word dus meestal deur eksterne faktore gesneller, lei tot onstuimige emosies wat my gedrag destruktief beïnvloed. Die volgende scenario beskryf dit eenvoudig. Daar word by my huis ingebreek, gevolglik beleef ek ‘n gevoel van onveiligheid, vrees, bitterheid en is ek ongeduldig met die regering van die dag wat nie misdaad effektief bekamp nie. Ek beskuldig en verdink almal, is selfs kwaad vir God. Geduld is egter ‘n kosbare lewenskwaliteit wat dikwels deur harde werklikhede in lewensituasies aangeleer word. Wat ek daaruit leer is dat ek nie altyd kry wat ek verdien of graag wil hê nie. Dat ek dalk nie meer gewoond aan ongemak of ongerief is nie. Dat my onvermoë om beloning uit te stel en die drang om in my onmiddellike behoeftes te voorsien, my lewe regeer. Dat wanneer ek bid, ek nie noodwendig dadelik genesing of verandering van omstandighede gaan beleef nie. Dat ek nie vír God kan besluit hoe en wánneer Hy moet voorsien nie. Ons sukkel om te onderskei tussen iets wat nie góú genoeg gebeur nie en óns persepsie van wat gou genoeg is en hóé dit moet gebeur. Tog is die oorsprong van beide strominge, uit dieselfde fontein van ongeduldige denke met my situasie. Ons verstand en rede sê dat ons slegs vrede sal ervaar indien omstandighede dadelik verander soos ons dit wil hê. Die waarheid is dat dit nie jou omstandighede is wat jou gelukkig of ongelukkig maak nie. Hoe jy dit vertolk en daarop reageer, is wat belangrik is.

Gebed:  Vader, help my om nie deur my emosies regeer te word nie, maar deur ‘n nuut herskepte gees. Leer my om geduldig te wees met dit wat ek nie kan verander nie. Amen