Wanda Bam

“Daardie dag sal my volk My Naam bely, dat Ek die Here is, dat dit Ek is wat sê: Hier is Ek.”  Jesaja 52:6

Daar is so baie beskrywings van wie God is, wie “Ek is” is, wat Hy sê, wat Hy doen en hoe ryk en diep sy karakter lê maar, leef ek werklik met ‘n konstante bewussyn van sy teenwoordigheid? Hy sê: “Ek is die Here, buiten My is daar geen redder nie.” (Jesaja 43:11). Geen ander wysheer, ghuru, motiveringsfundi, re-thinker, modernis, filosoof of teoloog kan jou red nie. God gee die definisie van sy redding, deur ‘n Redder wat Homself nie van die dood kon red nie, maar die wil van sy Vader gedoen het en daarmee geslagte en geslagte se redding kon meebring. Wat glo jy? Wie is jou redder? Kla jy en is jy kwaad omdat dinge nie gebeur soos jy lank gelede vir God gevra het nie  Haak jy vas by wat kon gewees het  Het jy nie dalk jou onvoorwaardelike liefde vir God verruil vir wat jy nodig het van Hom nie? Vergelyk jy God met ander gode? Of weet jy bloot net beter as “Ek is”?

Aan wie bring jy die eer vir waar jy jouself tans in jou lewe bevind? Onthou jy die dag toe jy jou hart en lewe vir die Here gegee het? Jy was verwonderd oor wie God is. Later het jy meer “gewoond” geraak aan jou redding en so half God se vergifnis as vanselfsprekend aanvaar. Sien jy jouself steeds as ‘n wonderwerk? Dat God jou raakgesien het, steeds doen en jou liefhet? Dit mag nooit die “vanselfsprekende” word nie. Hy sê: “Ek het julle uit Egipte gebring sodat Ek julle God kan wees. Ek is die Here.” (Levitikus 22:33). Het jy dalk vergeet van waar af jy kom? Dis juis in jou verlede wat jy die God van die hede kan eer omdat Hy jou tot hier gedra het. Jy moet egter leer om nie by die seer en teleurstelling wat was vas te haak nie, maar “Ek Is” toe te laat om jou hede in ‘n getuienis van sy goedheid in die herstelproses, te hervorm. “Let your trial become your testimony by letting God transform your failure into victory”.

Gebed: “Vader U is wie U sê U is. Ek is nie altyd wie ek sê ek is nie. Verander my Here sodat ek meer en meer soos U sal lyk. Amen.