Wanda Bam

“Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!  Dié wat die Here dien, moet getuig: “Aan sy liefde is daar geen einde nie.” Psalm 118:1,4

“Ek beloof ewig trou aan jou. Ek sal jou altyd liefhê. Niks sal ooit maak dat ek van jou skei nie.  Daar sal nooit iets belangriker wees as jy nie. Vir ewig en altyd net jy vir my.” Hierdie woorde is bekende woorde wat jy en ek baie in flieks en by vele huwelikseremonies hoor. Jy lees daarvan in Valentynsdag-kaartjies en in graffiti op mure. Liefde se opwinding lê dikwels in die onbekende en die eerste flits-oomblike van hartstog en romanse. Daar is ook die liefde wat van vêr kom, swaarkry saam beleef het, feeste saam gevier het, oor en oor vergewe het en steeds mense nader trek na mekaar en na God.

Hy is die bron van hierdie liefde, die Een wat eerste inisiatief geneem het en die mens kom deel maak het van sy ewige liefdesverhaal. Hierdie liefde is nie ingewikkeld nie, vra nie vir prestasie of teenprestasie nie. Dit is daar vir elkeen in gelyke dele en vandag ook vir jou.

Tog voel dit vandag dalk vir jou asof God jou onmoontlik kan liefhê. Dalk glo jy steeds dat Hy jou nog verkwalik vir jou belyde sondes van gister en jou steeds daarvoor wil straf. Hy is dieselfde God wat die volk Israel oor en oor vergewe het, selfs bygevoeg het dat Hy nooit weer  aan hulle oortredinge dink nie. Hy het herhaalde kere moes hoor hoe hulle liedere sing, “Aan sy liefde is daar geen einde nie”, net om kort voor lank as gevolg van hulle ongehoorsaamheid hulle in verlatenheid te sien wegsink in ellende. Hulle het keer op keer ander gode gekies en telkens hulle eerste liefde verlaat. Die verhaal van ontrouheid teenoor God en die wonderverhaal van sy herhaalde vergifnis en liefde, is wat van God, die Bron van volmaakte liefde, vir gewone mense, 'n werklikheid kom maak het . Jy en ek is deel van hierdie liefdesverhaal, vol genade, konflik, sonde en vergifnis en dan die wonder van alle wonders, sy refrein van lewe: “Aan my liefde vir jou, is daar geen einde nie.”

Gebed: Vader God, vandag buig ek in eerlikheid en groot ontsag vir wie U is, voor U neer. Ek is u liefde nie werd nie, maar ek weet u genade is ook vir my. Wil U my kom toemaak onder u mantel van liefde en genade en my leer, dag vir dag, wat ware Liefde is. Dankie vir u liefde, ek maak dit nou ook myne. Amen.