Wanda Bam

“Maar toe ek goed nadink oor alles wat ek gedoen het en oor alles waarmee ek my met soveel sorg besig gehou het, het ek gesien dat alles niks was, 'n gejaag na wind. In hierdie wêreld bevredig niks nie.”  Prediker 2:11

“Maar Ek het dít teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie.”

Openbaring 2:4 (AFR83)

Ons word geleer dat om die hoogste sport te bereik, die enigste weg tot ware kwaliteit lewe is. Ons seil na harde werk en oefening net-net oor die dwarslat en skuif dit dan binne die volgende dag of twee nog 'n bietjie hoër.  Ons noem dit groei.  Ons verhoed dat ons stagneer, of so dink ons.  Ons lewe is die resies teen middelmatigheid. Kort voor lank staan ons op die hoogste spar van die leer en wonder hoe ons, stoksielalleen, hier beland het. Ons het niemand met ons saamgeneem nie.  Ons was te besig om hoër hoogtes ons enigste doelwit te maak.

Die Skrif verwys na sukses as ‘n wedloop met ‘n verskil. Dit praat in dieselfde konteks van ‘n skare van gelowiges, dit praat van verhoudinge, van familie, kinders en bejaardes, van weduwees en aanneemkinders, en sluit selfs die armes en verworpenes in. Dit leer ons dat in hierdie pylvak daar verloorders en wenners is, maar dat almal van ons die wedloop van die lewe sal voltooi. Die Skrif werk met formules wat ons nie verstaan nie.  Formules wat sê dat die wat eerste is laaste sal wees. Jy sien, vir God kan ons nie beïndruk nie, ons kan Hom nie liewer vir ons maak of omkoop tot ons eie eksklusiewe voordeel nie. God het ter wille van ons, sy seun die grootste Verloorder kom maak om vir altyd die bordjies te verhang deur in ewigheid van ons, deur sy dood en opstanding, ewige oorwinnaars oor die dood te maak!  Al wat Hy van ons vra is, nie groter prestasie nie, maar gehoorsaamheid. Volhoubare liefde in hierdie resies van die lewe, vra ‘n gefokusde Liefde vir mekaar en bo alles vir God. ‘n Liefde wat die taal van gehoorsaamheid praat. Dit is in al die eiewaan, materiële waansin en gejaag, wat ons ons Eerste liefde verlaat. Dit begin in die eerste plek by Hom, by God en God alleen. Uit my liefde vir Hom, my eerste liefde, vind alles balans. Vind ek en jy rus en waarheid. Maak Hom vandag weer jou eerste liefde.

Gebed:  Here, leer my om die wedloop van die lewe saam met U te hardloop, en my gesin, vriende en familie, saam op reis te neem na die ewigheid waar ons saam met Jesus Christus die oorwinnaar oor die dood, die ewigheidsfees sal vier. Amen.